Die regte ding om te doen
My vrou was bevoorreg om vir ’n paar dae in Tasia, ’n klassieke ou klooster in Frankryk, haar geestelike batterye te gaan laai. Daar ontmoet sy ’n twintigjarige Poolse meisie.
Dit was nie ’n jaar later nie of sy daag hier by ons voorstoep op. Sy het gekom om te kom help met die Tasia-byeenkoms in Kaapstad. My vrou dra haar op die hande. Neem haar na verskillende besienswaardighede, help haar met haar verpligtinge in die Kaap en as sy sukkel met die mense waar sy bly, is ons huis die oplossing.
En sy eet ook sulke snaakse kos. Ek moet ook daarvan eet, maar dis net bessies en slaaie en gras, of so lyk dit. Die mense eet mos nie vleis nie.
Ek raak eintlik so-effe geïrriteerd, want ons het so baie werk …
Ek raak stil, en my vers van die dag?
13Daar kom ook twee mans na jou toe oor wie jy jou moet ontferm. Hulle name is Senas, ’n regsgeleerde, en Apollos. Maak jou hart en jou huis vir hulle oop. Kyk dat hulle ’n dak oor hulle kop het en ook iets om te eet.
Ek dink dadelik aan die arme Titus. Hy sloof hom af vir die Evangelie. Met beperkte hulpmiddels, probeer hy die verlossende boodskap van God daar buite uitkry. Die omstandighede is glad nie gunstig daarvoor nie. ’n Swaard hang die heeltyd oor sy kop en sy finansies klop heel waarskynlik nie. En nou nog ’n pakkie! Nog twee bywoners.
Maar dit is wat kinders van God doen. Ons vra nie of die omstandighede gereed is om ander te help nie. Ons kyk nie of ons beursie dik genoeg is nie. Ons kyk nog minder wie die ander mense is nie, al is dit ’n prokureur (dis darem net ’n grappie!). Ons doen dit net. Dis die regte ding om te doen.
My vrou is reg. Sy vra nie hoeveel werk op haar tafel is nie. Sy vra nie of ons geld het of selfs hoe haar fondse lyk nie. Sy vra nie hoeveel petrol sy gaan uitry om dit vir die meisie uit Pole lekker te maak nie. Sy doen dit net. Dis die regte ding om te doen.
Ek dink dat God ons partymaal so ‘n bietjie rek om te sien hoe vêr ons geloof in Hom sal gaan. Maar meer nog, dink ek, rek Hy ons om te sien hoe vêr ons dade sal rek. Is ons bereid om Hom te vertrou om die dinge te laat uitwerk, al dink ons ons het nie nou tyd of geld of krag om ander te help nie?
Jy sien, ons moet, soos die Engelsman sê: “Practice what you preach!”. Ons preek die heeltyd dat ons ander moet help. Ons praat tog so mooi en sê dit is elke Christen se verantwoordelikheid om ’n verskil in God se Nuwe Wêreld te maak. Maar doen ons dit?
Ja, maar baie keer op ons voorwaardes. Net wanneer dit vir ons geskik is om te help. Dis mos nie reg nie. In alle omstandighede moet ons gereed wees om te help en dit met ’n lied in die hart. Mag dit tog so wees!
Teks
Tit 3:12-15
Om oor na te dink
Is jou omstandighede geskik om te gee?
Wat is jou taak?
Waar?
Gebed
Vader, ek besef dat ek so ‘n bietjie op ’n gemakstoel sit. Ek besef dat ek eintlik net in goeie tye en lekker omstandighede wil gee. Help my om enige tyd op te staan en goed te doen aan ander. Help my om oral waar ek gaan, ’n verskil in ander mense se lewens te maak. In Jesus se Naam, amen.