God se Woord in vandag se woorde

Die Vaderhart luister


My seun kry baie dinge met sy ma reg. Ek stem nie altyd saam nie en sê baie keer vir haar sy moenie ons seun ’n leergeleentheid ontneem nie. Maar as ek weer sien, draai hy haar arm so liggies. 

’n Moederhart kan dit nie keer nie. As dit vlees en bloed is, is dit anders. Ek het dit by my eie ma gesien. My broer is drie maande na my pa oorlede. Sy het altyd gesê dat sy die heengaan van my pa kon hanteer, maar die dood van haar eie vlees nooit nie. 

Dis wat die moederhart anders maak. 

God se Vaderhart werk ook so, net veel meer. Ek wonder watter tweestryd moes daar nie in Hom gewees het om aan die een kant Sy eie Seun te laat doodmaak aan ’n kruis en aan die ander kant deur Jesus se sterwe ’n magdom van Sy kinders te red van die ewige verderf. 

God se Vaderhart was egter so groot vir ons sondige mense, dat Hy bereid was om Sy Seun na die aarde te stuur. Sy Seun, Sy alles, Sy geliefde vlees en bloed. Juis daardie bloed wat die betaalmiddel was vir ons sondestraf. 

Ons het dit al so baie gehoor. Maar ek wonder of ons regtig besef wat Jesus vir ons gedoen het? Die straf vir ons oortreding is nie tronkstraf nie, maar die dood. Soos in Amerika nog by lethal injection of soos in China waar jy deur ’n vuurpeloton doodgeskiet word.  

Dis waarvoor ons kwalifiseer. Dank Vader dat Jesus egter bereid was om in ons plek Sy hand op te steek om te sterf aan ’n kruis. Nie ingespuit of voor ’n vuurpeloton nie, maar deurboor aan ’n kruis. 

Jesus is ons held. Nee, meer nog. Hy is ons lewensredder aan die kruis. Maar Jesus se werk en kies vir ons kant, hou nie hier op die aarde op nie. Hy neem hierdie lewensredderskap na ’n volgende vlak. 

1… As een van ons egter wel so ’n fout maak, kan ons daarvan seker wees: ons het Iemand wat ons op ’n baie besondere manier sal help. 2Hy sal vir ons gaan mooipraat by ons hemelse Vader. Ek praat natuurlik van Jesus Christus. Hy is die ideale Een om dit te doen, want die verhouding tussen Hom en die Vader is baie goed. Omdat Jesus dit vra, sal die Vader ons sondes oorsien. Jesus Christus is nie net bereid om dit vir óns te vra nie, maar ook vir elke mens op aarde wat bereid is om na Hom toe te kom. 

Jesus praat mooi oor ons met God. Tussen God en Jesus is daar ’n spesiale band. Dis die Vaderhart wat God op ’n spesiale manier laat luister na Jesus. Wanneer Jesus dan iets vir God vra, sal God dit so laat gebeur.  

As Jesus dan vir ons pleit daar in die hofsaal, dan sal God dit toestaan, omdat dit juis Jesus is wat dit vra. Dis wat die Vaderhart doen. Elke keer. Vir alle mense.  

Maak nie saak wat die mens aangevang het nie, omdat Jesus vir die hele mensdom se sondes betaal het, omdat Jesus elke mens in die wêreld se verteenwoordiger in die hemelse hofsaal is, is vergifnis elke keer op die tafel.  

Dankie tog! 

Teks
1 Johannes 2:1-2 

Om oor na te dink
Roer God se Vaderhart, jou hart?
En Jesus se baklei vir jou?
Ervaar ander jou dankbaarheid ook wanneer dit rof gaan? 

Gebed
Vader, hoe sê ’n mens dankie dat ek nie die straf hoef te betaal nie, omdat Jesus in my plek gestaan het? Mag ek hier op aarde my dankbaarheid aan almal in my lewe uitleef vir hierdie onverdiende genade. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek