God se Woord in vandag se woorde

Die wet en Jesus en God


Ons almal trap een of ander tyd in die gat van die sonde. Sommige van ons meer gereeld as ander en dan sukkel ons om daaroor te kom. Ek weet nie of dit is omdat ons sukkel om onsself te vergewe en of ons net vrek teleurgesteld is nie, maar dit bly ’n geswoeg om van daardie stuk sonde ontslae te raak. Dit is soos ’n groot stuk bagasie wat ons saamsleep. Dit breek ons spoed. Dit breek ons selfvertroue. Dit knou ons bruikbaarheid vir God.

Ek kry baie e-posse van mense wat sê dat God hulle nie kan gebruik nie, want die stuk sonde lê vierkantig in hulle pad. Hoe kan God so ’n sondige mens gebruik? Ek is te vuil om my mond oop te maak en God se rein boodskap van verlossing oor te dra. Daarom bly ek eerder stil.

Ek vermoed mense wat so swaar sleep, haak nog vas by die wet van God. Ek onthou toe ek nog ’n kind was, is die Tien Gebooie elke Sondag afgelees. En as my pa een Sondag vir ’n slaggie die korter weergawe in Matteus 22 lees, dan is daar van die ooms in die gemeente sommer boos, want dis nie die wet nie. Ons moet elke Sondag wéér gekonfronteer word met die wet. En dis presies wat dit was, ’n konfrontasie met die wet. ’n Bakleiery waar jy gedurig herinner moes word aan jou onvermoë om skoon voor God te leef.

Ai! Hoe kortsigtig is dit nie van ons mense om toe te laat dat die wet ons pak gee nie, want dit was glad nie God se idee nie. God wil nie hê ons moet begin by die wet nie. Ja, God se idee is wel dat ons by die wet uitkom, maar ons moet daar uitkom deur Christus. Christus plaas die wet van God in ’n ander lig. Christus haal die angel uit die wet. Op sy eie kan die wet ons niks help met verlossing en vryspraak nie. Inteendeel – dit laat ons net skuldig voel en veroorsaak dat ons ons nie beskikbaar stel vir God se werk nie. Daarom dat mense sommige kere sê dat hulle te sondig is om iets vir God te doen.

Ons gehoorsaamheid aan die wet kan ons nie vryspreek van ons sonde nie.

16Want niemand kan in die regte verhouding met God kom deur sy wet te gehoorsaam nie. Dit help niks nie. God skryf net dié mense se sondes af wat in Jesus Christus glo. En dit is presies wat ek en julle gedoen het: ons het in Christus Jesus begin glo. Dit is hoe God ons van al ons sondes vrygespreek het. Die wet van Moses kon dit nie regkry nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom bloot net deur die wet te probeer gehoorsaam nie.

As ons oor vryspraak en verlossing praat, waag ek om die volgende vergelyking te maak tussen die verlossing wat Jesus vir ons gebring het teenoor die wet:

Die wet skryf jou sondes op. Jesus skryf jou sondes af.

Die wet maak vas. Christus maak los.

Die wet kap grense vas. Christus breek grense af.

Die wet bou hoë mure – sommige te hoog om oor te kom. Christus breek mure af.

Die wet sluit deure toe. Christus maak deure oop en gooi die slotte weg.

Het die wet dan nou oorbodig geraak? Nee! Ons het steeds die wet van God nodig, want hier kry ons raad oor hoe ons die pad moet loop. En wanneer ons na die wet kyk as rigtingwysers vir die pad wat God wil hê ons moet loop, sal dit met ons goed gaan. En dit is God se hart en bedoeling met die wet.

Ons moet net deur Jesus daarna kyk, want Jesus haal die rottang, die pak slae, die straf daaruit. As ek verstaan dat die straf uit die prentjie is, is ek nie meer bang vir die wet nie. Dan raak dit my mentor, my vriend wat saam met my hand aan hand stap en help om op die goeie pad te bly.

Jesus is die enigste deur waardeur ons by God kan uitkom. Die deur staan oop. Kom ons vat hande en ons stap saam daardeur. Dit is al plek waar ons ons sondes kan los. Dan kan ons weer hop, skip en jump, want ons is vry van die sonde. Dan kan ons ook ander help. Ander wat dalk net soos ons sukkel met die pakkie van die sonde.

Teks

Galasiërs 2:15-21

Om oor na te dink

Weet jy dat niks wat jy doen, jou plek in die hemel kan koop nie?

Aanvaar jy die verlossing wat Jesus vir jou aanbied?

Gaan leef dit!

Gebed

Onse Vader wat in die hemel is, dankie dat U nie daar gebly het nie. Dankie dat U Seun na die aarde gekom het om vir ons sondes te sterf. Dankie dat U Gees in ons elkeen is. Dankie dat ons vry kan wees. Help ons om so te leef dat sonde nie ons spoed breek nie. Help ons om ander te help om die pakkie van sonde anderkant die deur te los wat Jesus vir ons oop gesterf het. Amen

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek