Diepe, volmaakte vreugde verkrygbaar
Hoe sê Emo altyd? “Waar’s dit lekker? Hier’s dit lekker!”
Ons mense loop so onder druk. Dis asof lekkerte en die lewe se genietinge net die heeltyd opsoek is. Die verwagtinge van die wêreld en ook dié wat ons op onsself gesit het, druk ons so hard.
Dit is sulke tye wanneer ons vra waar dit lekker is, want ons wil ook nou soontoe gaan. Ons is moeg vir lekkerlose lewe. Ons is moeg om net die pot aan die kook te hou. Ons is moeg vir die roetines. Ons is net moeg …
Ons wil weer wees soos toe ons jonk was. Ons wil weer proe aan die sorgelose lewe. Ons wil weer die varsgebakte plaasbrood met dik plaasbotter en tuisgemaakte appelkooskonfyt in ons mond prop, sonder om te worry op watter plek dit nou op ons lyf gaan vasplak.
Ons wil op ’n mooi someraand gaan slaap, met die deure en vensters wawyd oop, sonder om bang te wees dat iemand ons goeters deur die nag een vir een gaan kom uitdra.
Ons wil weer in vrede leef waar ons mekaar dien en elkeen nie hoef te baklei vir sy plekkie in die son nie. Ons wil weer appels eet dat die sop spat, sonder om bang te wees ons eet van die een in die middel van die tuin.
Ons wil weer gelukkig wees. Ons wil weer werklik gelukkig wees. Ons wil weer ware geluk smaak …
Nou vir ’n stukkie goeie nuus – dit is beskikbaar! Ware geluk staan en wag vir ons elkeen net om die draai. Dit is binne elke mens se bereik. Ons moet dit net deel maak van ons lewe:
25 Iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen. (1983-vertaling)
Ongelukkig kry ons dit nie op ’n skinkbord nie. Ons kan nie maar net sit en ware vreugde gaan ons kom omspring nie. Ons moet die Woord van God, Sy reëlings vir ons om die lewe te leef, gaan opsoek en deel maak van ons lewe. Dis hier waar ware vreugde uit ’n mens begin borrel.
Die oorspronklike woord wat hier vertaal is met verdiep, beteken dat ons naby iets sal neerbuig, om vooroor te buig, om iets van nader te bekyk. Dis soos iets wat eers vêr was en nie duidelik sigbaar nie, maar hoe nader ’n mens daaraan kom, hoe duideliker word dit, totdat ’n mens elke woord kan sien om te lees sodat dit hier binne jou kom woning maak.
Ons moet in die jaag van die resies van die lewe daagliks stilhouplekkies soek waar ons die Woord van God kan lees. Dit is volmaak. Dit is die ware antwoord vir ons elkeen se lewe. En dis net hier waar ware vreugde te kry is. Die res is net geraas.
Teks
Jakobus 1:19-27
Om oor na te dink
Kort jy vreugde?
Glo jy dat dit beskikbaar is in God se Woord?
Kyk en hoor en luister en doen jy wat God se Woord sê?
Gebed
Vader, as daar nou een ding is wat ek regtig nodig het, is dit vreugde. Ek soek so hard daarna en ja, ek weet dis in U Woord en U weë vir my. Help my om daar uit te kom. In Jesus se Naam. Amen.