Dink, voel, doen
Daar is soveel onreg in die wêreld. Daar is soveel mense wat swaarkry. My oor vang die drie-maandelikse verslag van die polisiekommissaris.
In Suid-Afrika is 5 760 mense doodgemaak, 10 006 mense verkrag …
Dit ruk my tot in my siel. Hoeveel mense se lewe is nie hierdeur erg deurmekaar gekrap nie, sommige heeltemal verwoes? Wat gaan aan in die mense wat dit doen? Ons kan dit mos nie toelaat nie!
Ek wens ek hoef nie hieroor te skryf nie, maar ons wat kinders van God is, kan mos nie ons oë net wegdraai en aanstap asof niks gebeur het nie. Daar sit mense met moewiese gate en hulle weet nie hoe vorentoe nie.
Dis ons kinders van God se opdrag om iets te doen. Eintlik moet dit nie eers ’n opdrag wees nie, ons harte moet ons aanvuur om hulle te hulp te snel.
Die skrywer van Hebreërs help juis sy lesers om oor te gaan tot aksie waar daar seer en swaar is: 3Moenie die mense wat in die tronk is, vergeet nie. Dit moet vir julle wees asof julle self in die tronk is. Net so moet julle meegevoel hê met die mense wat sleg behandel word en swaarkry, asof dit julle self is met wie dit gebeur.
Baie van hul medegelowiges is vir hulle geloof in die tronk gestop. Die mense kry swaar, hulle geliefdes kry swaar. So maklik vergeet ’n mens van die broer in die tronk. So maklik gaan ’n mens net aan met jou lewe en dink nie aan die ander wat swaarkry nie.
Dit pas nie by ’n kind van God nie. Ons moet dink aan die wat in die tronk is. Ons moet dink aan die wat gebind is en vasgeketting is aan een of ander iets wat hulle lewe aftakel en die lewe en vryheid stadig maar seker uit hulle druk.
Ons moet dink aan die geliefdes wat by ’n graf moes staan en nou nie weet hoe verder nie. Ons moet dink aan die wat met groot, onverwerkbare trauma sit, omdat iemand hulle wese van hulle kom steel het.
Dit bly egter nie net by dink nie. Ons moet ook compassion hê. Ons moet onsself indink hoe erg dit moet wees, hoe seer en swaar hulle moet kry, asof ons self daardeur moet sleep.
Die dink en voel en inleef in die ander se pyn, sal ons in beweging kry. Dan sal ons van ons gemaklike rusbanke opstaan en iets begin doen. Ons kan nie die gat wat in hulle lewe geruk is net so toemaak nie, want ons het nie almal die tools nie. Ons weet nie eers altyd wat om te sê nie.
Bloot ons teenwoordigheid, bloot die daar wees, help al klaar. Net om ’n traan saam te stort en eerlik te wees en te sê ek weet nie lekker wat om te doen of wat om te sê nie, maak alreeds ’n groot verskil.
Kom ons maak almal erns met hierdie een. Kom ons haal ons oogklappe af en sien die seer en swaar raak. Laat ons dan aktief planne maak om te help en dan oorgaan tot aksie.
Teks
Hebreërs 13:1-8
Om oor na te dink
Sien jy ander se seer raak?
Voel jy ander se seer?
Wat doen jy daaraan?
Gebed
Vader, ek bely dat ek nie altyd ander se seer en swaar raaksien nie, wat nog te sê iets daaraan doen. Help my om my oë oop te hou en raak te sien en te voel en te doen. Net in U krag. In Jesus se Naam vra ek dit, amen.