Dis ’n proses
Ek het altyd gedink dat my geloof in God my eie toedoen is. Ek moet kliphard Sy Woord bestudeer en soveel as moontlik van die waarheid indrink om my geloof in God sterker te maak. Maar ek weet nou dat dit nie net van my afhang nie.
Dankie tog, want op my eie sal ek dit nie maak nie.
13… Julle geloof is die gevolg van die Gees se werk in julle lewens. Hy het julle opsy gesit vir Homself. Daarom glo julle die waarheid.
God het gesien dat ons nie sterk genoeg is om op ons eie gelos te word nie. Daarom het Hy ‘n Helper, Sy Heilige Gees, vir ons elkeen gegee om in ons te werk, saam te swoeg, saam te leer om ons by God se droom vir ons elkeen se lewe uit te kom.
Hierdie droom is ’n gemeenskaplike droom vir ons almal en dit is dat ons heilig sal wees, of soos die vertaling dit stel: Opsy gesit vir God. God wil ons net vir Homself hê. Onthou: God is ’n jaloerse God en Hy wil ons nie deel met iets of iemand anders nie.
Die duiwel weet dit ook. Daarom dat hy sy bes probeer om goeters in te druk om God se spasie in ons lewe oor te neem. Hy prop karre in. Huise. Geld. Roem. Kontantvloei. Klere. Besigheid. Vriende. Familie. Blieng. Partytjies. Noem maar op. Alles word ingeprop om ons al hoe minder afgesonder te maak vir God. Die vyand probeer ons heiligheid steel.
Hoe nou gemaak?
Kom ons begin by die begin. Die dag toe jy vir God gekies het, het Hy Sy Heilige Gees in jou geplaas.
Ek weet dis vir baie van ons vreemd, omdat ons nog nooit eintlik die Gees gehoor het nie. Tog sê die Woord van God (Handelinge 2:38, 11:17) dat as ons ons sondes bely, as ons God aanneem as ons Verlosser, ons Sy Gees ontvang. Ek vermoed ons is net te veel aan die woel om Sy leiding in ons lewe te ervaar.
Die werk van die Gees is om ons te help op die pad van heiligmaking. As ons vir Jesus in ons lewens innooi, is ons ongelukkig nie ewe skielik heilig nie. Dis ’n lang pad, ’n lang proses waardeur ons moet gaan. Dis ’n groeiproses waarin ons leer hoe om al hoe meer heilig te lewe, m.a.w. ons raak stukkie vir stukkie van die gemors van die wêreld ontslae sodat ons meer en meer soos Jesus lyk.
Tog sit ek nie passief en laat die Heilige Gees al die werk doen nie. Nee, ek moet ook iets doen. Ek moet in die waarheid glo, wat terloops ook moontlik gemaak word deur die Heilige Gees se gewoel binne my. Maar waar kry ek die waarheid?
Duh, sal die kinders sê. In God se Woord natuurlik.
Ja! Dis reg. In God se Woord staan al die waarhede wat ons nodig het. Ons moet voortdurend Sy Woord bestudeer en soveel as moontlik van die waarheid indrink. Saam met die Heilige Gees wat ons hand neem, sal ons geloof in God sterker word en sal ons meer en meer vir Hom beskikbaar wees.
Kom ons laat toe dat die Heilige Gees Sy werk in ons lewe doen. Kom ons maak dit maklik vir Hom en drink God se waarheid deur Sy Woord in.
Teks
Dink bietjie hieroor
Hoe lyk jou geloof?
Hoe na aan die waarheid is jy?
Hoeveel ruimte is daar vir die Heilige Gees om in jou te werk?
Gebed
Vader, dankie vir U Heilige Gees wat U vir ons as geskenk gegee het. Dankie dat Hy ons help om te glo. Amen.