God se Woord in vandag se woorde

Doen soos waar jy woon


Ek is dankbaar dat ek tydens die jare wat ek geboer het, besef het watter groot voordeel dit was om ’n huis op die plaas te kon bewoon as deel van my besoldiging. Ons vriende was nie so gelukkig nie en moes elke maand swaar aan huur betaal, net om ’n dak oor hulle kop te kry. 

Ek het besef dat as hulle elke maand geld kan afknyp vir verblyf, kan ek mos ook en in plaas van huur, kan ek eerder begin afbetaal aan my eie huisie. So gedink, so gedoen en gou het ek ’n huurder wat my help om my eie eiendom te bekom en later nog een. 

Toe ek die boerdery verlaat, was dit juis hierdie eiendomme wat my gehelp het om my droomhuis te bekom. Lekker huis met ’n gaatjie vir almal. ’n Groot stoep waar ons baie met vriende en vreemdelinge kuier en ook met ’n lekker braai vir pappa. 

Toe ons die besluit gemaak het om die besigheidswêreld vaarwel toe te roep, het ek geglo dat ek my geliefde huis moes prysgee en êrens op die platteland ’n ou fix-me-upper sal moet aanskaf. Maar God het gewil dat ons ons huis kon behou.  

Ons is so dankbaar. Hierdie huis se mure kan soveel stories vertel. Elke keer as ek vir ’n tydjie weg was, word ek weer oorval deur vreugde as ek hier instap. Hulle sal seker eendag my voete eerste hier moet uitdra. 

Dis nou ’n lang storie om iets te vertel van ’n Griekse woord wat Johannes gebruik in sy skrywery. Die woord is menon en word vertaal met “woon” of “bly in” of “tuisgemaak in”.  

Die teksvers waarin hy die woord gebruik, word deur die 1983-vertaling soos volg vertaal: 6Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie. 

Die dag toe ek vir Jesus aangeneem het as my Verlosser, het ek by wyse van spreke, by Jesus ingetrek, by Hom gaan woon.  

In my huis doen ek sekere dinge en sekere dinge nie. Of anders gesê, sekere gedrag pas daar en ander nie. Sal ek op my huis se mure skryf? Nee, my vrou sal my foeter.  

Sal ek dronkpartytjies hou en sleutels in ’n bak gooi? Vir seker nie. Ek sal mense wat dit doen, nie eers by die voordeur inlaat nie.  

Sal my huis ’n plek wees waar mense wat lewensmoeg is en ’n plekkie soek van hoort, welkom voel? Ja, vir seker sal ek hulle innooi en sorg dat hulle versorg word.  

Net so pas daar sekere dinge net nie lekker is daar waar ek by Jesus ingetrek het nie. Sonde is taboe. Dit pas nie in nie. Dit skreeu teen die wese van die inwoning daar. Eintlik is sonde ’n teken van iemand wat glad nie verstaan waaroor dit gaan nie en vir seker nie vir Jesus ken nie.  

Dis darem nou eintlik baie eenvoudig vir almal om te verstaan. As jy vir Jesus gekies het, bly jy in Hom en sonde pas eenvoudig net nie in nie. Ja, ek weet ons natuur trek skeef en ons glip en gly oor die grense. Maar dis nie ’n verskoning nie!  

Kom ons maak erns met die skewe goeters wat ons doen en wikkel die sonde wortel en tak uit. Dan sal ons in vrede kan woon in Jesus.  

Teks
1 Johannes 3:4-10 

 Om oor na te dink
Woon jy in Jesus?
Hoe lyk die sonde daar?
Waarvan moet jy ontslae raak? 

Gebed
Vader, ek weet ek sleep nog ’n pak sonde saam. Help my asseblief om dit te los. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek