God se Woord in vandag se woorde

Doen wat die coach sê: Dien ander ook!


Petrus is die coach en neem ons hand om ware Christene te word. Dis ’n lang pad en ek vermoed ons kan nooit sê: “Aha, nou het ek gearriveer!” nie. Maar tog raak ons met die tyd anders en begin ons doen volgens God se wil vir ons lewe.  

  • Dis nie eintlik kernfisika wat ons hier moet bemeester nie. Dis heel eenvoudig: doen eenvoudig net wat reg is en luister na die alarmpie wat binne jou sal afgaan as jy nie op die regte pad is nie.  
  • Trek altyd die pakkie van wysheid aan om te weet watter rigting die beste een is by die kruispaaie van die lewe.  
  • Stel wagte aan om te help dat jy nêrens beheer oor ’n situasie verloor nie. 
  • Teen die tyd weet ons tog te goed dat ons nie ’n binnebaan kry nie en dat die weer een of ander tyd op die horison gaan opsteek. Dan moet ons ons staal en sterk staan.  
  • Dit neem ’n bietjie energie om te weet watter vrugte God wil hê ons moet dra, maar dan moet ons hulle gaan uitdeel aan die mense om ons.  
  • Natuurlik staan ons broers en susters in die ry waar ons nie net vrugte kan gaan uitdeel nie, maar ook kry.  

Nou kom ons by die laaste voorstel van Petrus: dat ons hierdie vrugte van ons verder moet gaan uitdra: 7… Gee regtig om vir almal met wie julle elke dag te doen kry. 

Baie keer wonder ons watter verskil ons nou eintlik kan maak. Ek het nie veel om by te dra nie en daarom bly ek maar agter die gordyne staan. Tog het ons almal altyd iets. God het juis vir ons gawes gegee om terug te ploeg in ander se lewens. 

Ek vertel weer die storie van die kersie wat deur ‘n man gedra is terwyl hy die trappe na die vuurtoring uitklim.  

Op pad na bo vra die kersie vir die man: ”Waarheen gaan ons?” Ons is op pad na die vuurtoring om seine te gee vir die groot bote op die oseaan.”, het die man geantwoord. 

“Wat?” sê die kersie, “Hoe is dit vir my, ‘n klein vlammetjie, moontlik om seine te gee aan die groot bote op die oseaan?  Dis verregaande. Hulle sal nooit my liggie kan sien nie.”, antwoord die kersie swakkies. 

“As jy dink jou liggie is klein, is dit jou persepsie. Bly jy net skyn tot ons bo kom, en los die res vir my.”, sê die man. 

Toe hulle bo kom, sien die kersie daar staan ‘n vreeslike groot lamp, met ‘n lang kerspit wat agter afhang. Die man neem toe die lamp se pit en steek dit aan die brand met die kersie in sy hand en onmiddellik was die hele plek helder verlig. Die lamplig was so sterk dat die skepe op die oseaan dit duidelik kon sien. 

Al voel dit soms asof die stukkie wat jy kan bydra nie eintlik ’n verskil gaan maak nie, moet jy weer dink. God wil juis dit wat jy kan bring, gebruik om ’n groot verskil in ander se lewens te maak. Jy hoef nie alles te bring nie, net dit wat jy het. God sal vir die res sorg.  

Mag die mense met wie jy elke dag skouer skuur jou omgee ervaar deur jou dade en woorde. Mag die wêreld ander wees omdat God jou klein vlammetjie kragtig gebruik.  

Teks
2 Petrus 1:3-15  

Om oor na te dink
Watter gawes het jy?
Glo jy dat dit ’n verskil in ander se lewens kan maak?
Waar kan jy ’n verskil gaan maak? 

Gebed
Here, dankie vir my gawes en dankie dat U my belangrik genoeg ag om ’n verskil in die wêreld te maak. Gee my krag en moed om dit te doen. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek