God se Woord in vandag se woorde

Doen wat die coach sê: Doen reg!


My seun besluit sommer so op die ingewing van die oomblik om die Ironman 70.3 in Mosselbaai te gaan doen. Sonder dat hy té veel oefen, gaan neem hy deel en doen bo verwagting baie goed. 

Toe het die gogga hom reeds gebyt en hy besluit om te begin oefen vir die Ironman 140.6. Dit behels 3.9 km swem, 180.2 km fietsry en ’n vol marathon van 42.2 km. Alles direk na mekaar, op een dag en gewoonlik teen die kus se winde.  

Hiervoor moet ’n mens vir seker oefen en maande voor die tyd kry hy vir hom ’n coach wat presies sê watter afstande per dag hy moet aflê. Deesdae met die slim horlosies weet die coach presies wat hy doen en nie doen nie en sal gou kommentaar lewer as hy nie op pyl is nie. 

Dis ’n heel nuwe leefstyl wat hy moet aanleer. As hy op die podium wil staan, kan hy nie op sy ou manier van chips en Coke lewe nie. Toe hy by die coach wil hoor wanneer in die week die afdag is, sê die coach dat hy nie eintlik glo in afdae nie.  

Wanneer ons kinders van God raak, moet ons ook ’n nuwe lewenstyl aanleer. Ons het ook hier ’n coach, nl. Petrus. Soos my seun se coach wat in die top 5 van die Ysterman is en weet waarvan hy praat as hy my seun help, so is Petrus ook heel gekwalifiseerd om ons te help. Daarom kan ons maar na hom luister. 

5Moenie ’n enkele oomblik agteroor sit nie. Sorg dat julle geloof in Christus elke dag sterker word. Hoor jy mooi? Moenie lekker op die rusbank lê met ’n pak chips in die hand nie. Dit gaan jou nêrens bring nie. Nee, staan op en begin oefen.  

Die eerste voorstel is: Gaan só te werk: Span julle in om altyd net die regte dinge te doen. 

Ons natuur het met die sondeval ’n erge klap weg. Ons sondige natuur is die na-binne- gekeerdheid van die mens. En wanneer die mens net wil vat en alles vir hom of haar wil toe-eien, is dit nie noodwendig altyd die regte ding wat ons doen nie.  

Dis ons default. Ons weet dit. Daarom moet ons bewustelik probeer om uit die groef van ons ou lewe te klim. Want wanneer ons moeg is en iets gebeur, dan val ons terug na default. Dan dink en doen ons net dinge om die self kos te gee, wat verkeerd en selfsugtig is.  

Dit is baie harde werk om altyd die regte dinge te doen, omdat dit nie natuurlik kom nie. Soms weet ons nie eers dat ons nie die regte dinge doen nie, omdat dit so natuurlik deel van ons ou self is. 

Dis nie altyd maklik vir my seun om, wanneer dit reën, op die fiets te klim nie. Dis nog moeiliker om sy tekkies aan te trek en die teerpad aan te durf as die Bolandse son genadeloos brand. Maar daar is nie tyd vir agteroorsit nie.  

Ons moet ook weet dat ons die hele tyd, vier-en-twintig-sewe, ons eie natuur van verkeerde dade moet gaan teenstaan en probeer om altyd goed te doen. Ons moet plekkies soek waar ons ’n verskil kan gaan maak en dan iets daaromtrent doen.  

Dis harde werk om so te baklei vir die goeie dade. Ons moet luister na coach Petrus en by die gym van die lewe aansluit. Gelukkig doen ons dit nie alleen nie. Die Heilige Gees is altyd daar om te help. Laat ons sensitief wees vir Sy stem en doen wat reg is. 

Teks
2 Petrus 1:3-15  

Om oor na te dink
Waar doen jy verkeerd?
Waar doen jy reg?
Waar moet jy nog baie oefen? 

Gebed
Vader, dankie dat U ons nie alleen laat nie, maar ons help om die regte pad in die lewe te loop. Help my asseblief deur U Gees om elke dag reg te lewe. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek