God se Woord in vandag se woorde

Doen wat die coach sê: Dra God se vrugte!


Ons is besig om te oefen om meer binne die wil van God te lewe. Ons moet doen wat reg is. Ons moet sorg dat ons ’n klomp wysheid bymekaarmaak. Ons moet ten alle tye binne beheer bly en ons moet sterk staan as die winde ons wil omwaai.  

Nou sê coach Petrus: volhard met godsvrug (83). Hierdie is nie so ’n bekende woord nie en probeer om die Engelse woord godliness meer te omskryf. Die 2020-vertalers vertaal die woord met Godvresend, maar dit klink so asof ons nou bang moet wees vir God. 

Ons moet onthou dat ons na die beeld van God gemaak is, maar dat die sondeval hier ’n reuse stokkie daarvoor gesteek het. As ons onsself met Jesus vergelyk, sien ons dat ons vêr van die prentjie is.  

Tog moet hierdie gat in ons mondering ons nie verhoed om meer en meer soos Jesus te word nie. Dit is waar ons arbeid moet inkom. Die eerste stap is om die Woord van God nader te trek.  

Dis juis hier in God se Woord waar ons Sy woorde hoor. Hier hoor ons hoe God wil hê ons moet optree. Wanneer ons dan begin om nie meer die sondige dade  te doen nie en eerder te doen soos die Bybel ons leer, begin ons om meer vrugte van die Gees uit te leef. 

Gelukkig hoef ons dit nie alles alleen te doen nie. Ek vermoed God het geweet ons gaan sukkel en daarom gee Hy vir ons Sy Gees om in ons te woon en ons te help met die dade wat vrug dra.  

Tog bly dit ons verantwoordelikheid om tyd te maak om na die Heilige Gees te luister. Soms raas die wêreld so hard dat ons nie Sy stem hoor nie en gou sit ons in tamatiestraat met ‘n hele sak vol vrot tamaties.  

Onthou: die Heilige Gees sal nooit op ons skree nie. Ek het nog nooit die stem van die Heilige Gees hoorbaar met my ore gehoor nie, maar dis ’n diepe bewuswording hier binne my. Dan moet ek nie vrae vra nie en net doen. En elke keer as ek gedoen het, was die vrugte goed.  

Vir hierdie vrugte hoef ons nie te vêr te gaan soek nie. Dis eintlik die algemene boustene van ’n gesonde samelewing. Die vrugte is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  

As ek so na die vrugte kyk en na my eie dun takkies, besef ek dat ek dit vir seker nie op my eie kan voortbring nie. Ek het hulp nodig. Juis daarom moet ek sensitief wees vir die leiding van die Heilige Gees. 

Nee, dis nie ’n verskoning nie, maar ons weet dat ons nooit presies soos God sal wees nie. Daarvoor pootjie ons manier van lewe ons. Tog moet ons streef om soos Jesus te lewe en leer om meer en meer soos Hy te word.  

Wanneer ons dan soms in ’n gat trap of in tamatiestraat afdraai, moet ons so gou as moontlik daaruit kom, ons sondes bely en die doodloopstraat op die kaart van ons lewe toespan om seker te maak ons draai nie weer daar af nie.  

Mag jy met alles in jou God se vrugte najaag en seker maak dat jy dit dra vir ander om aan te smul. 

Teks
2 Petrus 1:3-15  

Om oor na te dink
Hoeveel vrugte van die Gees dra jy al?
Hoeveel kan jy nog en moet jy nog dra?
Waar moet jy jou vrugte gaan uitdeel? 

Gebed
Here, help my om meer en meer vrug te dra en vir ander uit te deel. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek