Doen wat die coach sê: Staan sterk!
Die lewe is nie maklik nie.
Daar is soveel uitdagings. Dis ’n uitdaging om aan die einde van die maand al die rekeninge te betaal en sonder aankondiging breek iets of kom daar ’n dief in die nag en vat nog van die min wat jy het. Dit laat ’n mens met jou hande in jou hare.
Ek weet nie hoe dit werk nie, maar wanneer ’n mens dit die meeste nodig het, val verhoudings uitmekaar. Die een oomblik is die water so kalm soos ’n Psalm net om die volgende oomblik sulke groot golwe teen te staan dat dit voel asof die bootjie gaan sink.
En as ’n mens so op ’n hopie sit, kom jy agter dat selfs jou geloof aan ’n tingerige draadjie hang. Groot teoloë trek ’n streep deur Jesus se opstanding en dit waaraan jy al die jare vasgehou het, is blykbaar nou nie meer waar nie.
As daardie draadjie gaan breek, het jy niks meer oor nie.
Ek vermoed ons coach het dit geweet. Die mense wat hy eerste in die oog het, is jong Christene. As jy nou dink dat jou geloof erg geskud word, moet jy jou bietjie indink in dié manne se skoene.
Vir hulle was Jesus maar ’n paar jaar gelede op die aarde. Die Jesus-beweging was maar nog kort op die planke en hulle het heel waarskynlik baie keer gevra: “Sê nou maar net Jesus was nie God se Seun nie? Sê nou maar net Hy was nie die Verlosser nie?”
Voeg nog die onderdrukking wat hulle van die staat en die kerk, ja die kerk, moes deurgaan by. Voeg die marteling en kruisiging en steniging van mede Christene by, dan was omdraai en weghardloop seker gereeld op hul tafels.
Daarom dat Petrus hulle hier uit die hoek van die bokskryt, waar hulle veg vir oorlewing van hul geestelike lewe, aanmoedig: 6… Saam met selfbeheersing gaan standvastigheid. Hou aan glo. Staan sterk!
Denise se kolon met kanker word verwyder. Sy lê met groot oë, baie vrae en ’n geloof wat wankel in haar hospitaalbed. Sy is eintlik kwaad vir God en kry haarself baie jammer. En die sakkie hier langs haar sy …
Haar broer kom in en sit ’n klein blou flitsie op die kassie. Hy sê dat die flitsie die liggie van haar geloof is. Hy het pas nuwe batterye ingesit. Hy sien dat sy nie verstaan nie en vertel van sy angste. Elke keer as die angs hom pak, bid hy en skyn die liggie van geloof.
Denise vertel dat sy nou nooit meer sonder haar flitsie is nie. As die vrees haar pak, as haar geloof wil wankel, skyn sy die liggie van die blou flitsie en bly glo in haar God.
En die “batterye” wat haar broer ingesit het? Hy het voor hy by haar aangekom het, vir twee ure vir haar gebid.
Wanneer die golwe daar by jou ook woes slaan, wanneer jou geloof begin wankel en die kerk en slim teoloë dinge sê wat jou laat twyfel, wanneer jou omstandighede jou versmoor, moet jy sterk staan. Al maak dit nie altyd sin nie, skakel jou geloofsliggie aan en weet dat daar ’n Almagtige God is wat jou ontsettend liefhet en nie sal toelaat dat die omstandighede of mense jou ooit sal onderkry nie.
Teks
2 Petrus 1:3-15
Om oor na te dink
Waar word jy gedruk?
Wat torring aan jou geloof?
Wat kan jy maak om te bly glo?
Gebed
Vader, dit is so. Soms sukkel ek om te glo. Soms wonder ek selfs of U bestaan. Help my om nie toe te laat dat my geloof gesteel word nie. Ek glo vir ewig in U wat my Hemelse Vader is. Amen.