Doen wat die coach sê: Wees wys!
Daar is ’n Afrikaanse spreekwoord wat sê: Hy dra water aan met ’n mandjie. Die betekenis daarvan is dat iemand iets probeer doen, maar nie genoeg wysheid het om dit reg te doen nie. Hy probeer iets doen, maar hy het nie genoeg kennis dat ’n mandjie nie eintlik ’n goeie houer is om water in te vervoer nie. Hy probeer iets doen, maar saam met die water val die pap op die grond.
Om ’n stukkende kar weer aan die loop te kry, het jy kennis nodig. As daar fout is met jou maag, gaan jy na ’n mechanic toe? Vir seker nie. Jy gaan na die dokter toe, want hy het kennis hoe dit moet werk en kan bepaal waar die fout lê.
Sonder wysheid en kennis van iets of iemand kan jy nie ’n opinie daaroor hê nie. Weet jy dat jy eers kennis oor Jesus en God moet hê voordat jy vir Hulle kan kies. Jy kan mos nie kies om in iemand te glo, sonder dat jy presies weet waarvoor jy kies nie.
Tog het ons nie al die kennis wanneer ons ons hand opsteek en vir Jesus as ons Verslosser aanneem nie. Ek vermoed ons word oorrompel daar by die kruis, wanneer ons besef dat Jesus in ons plek vir ons hoop sondes gesterf het.
Daar waar ons leer dat ons eers ons sondes moet bely en dan vir Jesus innooi in ons omgedopte wêreld, is slegs die begin van die nuwe pad. Ons het nog soveel meer te leer om op die regte pad te bly.
Ek vermoed die grootste stuk wysheid wat ons moet oopbreek, is dat ons goeie dade ons nie kwalifiseer vir die hemel nie. Wanneer ’n mens nie lekker weet nie, dan dink jy so, maar soos ’n mens toelaat dat die wysheid hier in jou wakker word, breek die begrip van genade stukkie vir stukkie oop en staan ’n mens verwonderd. Als moontlik gemaak deur kennis wat ons toelaat om ons koppe te swaai.
Dit is soos om by ’n nuwe werk aan te kom. Die eerste maand voel jy mos soos ’n verlorene en wonder wat kom maak jy hier. Dit is heel waarskynlik omdat jy nog nie al die kennis het van die nuwe besigheid se doen en late nie.
Maar soos jy meer leer ken, meer kennis inwin oor wat hulle doen en meer te hore kom van hulle verwagting van jou, begin die onsekerheid by die deur uitstap en raak jy opgewonde om ook jou bydrae te lewer.
Daarom moet ons van die begin af die wysheid-tassies soek wat ons gaan help om reg deur die lewe te loop, om binne die wil van God elke dag te loop. Hierdie wysheid-tassies moet ons vol maak, sodat wanneer ons by ’n kruispad kom, ons die stuk wysheid uit die tassie kan haal om die regte besluit te neem.
Toe Salomo die kans gegun is om enige iets in die wêreld te ontvang, al die geld, al die roem, die grootste koningskap, alles, kies hy net een ding: wysheid, want hy weet, as jy al die tassies wyshede by jou, het jy eintlik alles in die wêreld.
Ons het ’n coach, Petrus, wat ons help om as Christene reg deur die wêreld te loop. Hy gee vir ons ’n oefenprogram wat ons elke dag moet deurwerk. Hy sê: 5… Saam met hierdie ywer moet julle ook kennis hê. Sorg dat julle die Here goed ken.
Teks
2 Petrus 1:3-15
Om oor na te dink
Waar kort jy wysheid?
Waar kan jy dit kry?
Met wie moet jy dit deel?
Gebed
Vader, dankie vir die wysheid wat U skenk sodat ek vir U kon kies. Help my om meer te leer, sodat ek ander ook kan wys. Amen.