Droom, vra en ontvang
Ons as ouers wil graag die beste hê vir ons kinders. Ons kies die beste skole vir hulle. Ons sit ure langs sportvelde. Ons koop die beste toerusting en alles wat hulle nodig het om die suksespad van die lewe te stap.
Ons wil graag hê dat hulle êrens iets in die lewe moet bereik. Ja, ons droom saam met hulle drome en sal alles moontlik doen en gee om hulle te help om dit te bereik. Selfs al moet ons self iets opoffer.
Wanneer hulle dan na ons toe kom en iets vra om by die droom uit te kom, sal ons dit graag vir hulle gee, as dit natuurlik binne ons vermoë is. ’n Mens gee makliker wanneer die kinders ook hulle kant bring en ook wanneer daar ’n gesonde verhouding bestaan.
Ons is nie anders as God nie. God is ook ’n Vader en droom saam met Sy kinders. Hy wil ook hê daardie drome moet waar word in Sy kinders se lewens en Hy help ons om dit te bereik.
Daarom kan en moet ons ons hartsbegeertes voor God neersit. Maar dit moet binne ’n gesonde verhouding gebeur, binne ’n intieme verhouding, en ons moet seker maak dat ons begeertes binne Sy wil pas.
15Immers, as een van ons vir God iets volgens sy wil vra, kan ons maar weet: Hy luister! Wel, een ding is seker, dit is so goed of ons het wat ons van God vra.
Hoeveel keer staan mense met gebalde vuiste na bo, omdat hulle nie kry wat hulle van God vra nie? Hulle verstaan nie, want die Bybel sê tog dat ons kan vra en Hy sal voorsien.
Maar as ons nie ontvang nie, moet ons nie die fout by God gaan soek nie, maar eerder by onsself. Die belofte dat God gee, het ’n voorwaarde: ons moet vra binne die wil van God. Gaan dit wat ek vra, my help om by die droom van God uit te kom? Pas dit binne Sy wil vir my lewe?
Baie mense kom nie by die antwoord uit nie, omdat hulle nie eers weet wat God se droom of wil vir hulle lewe is nie.
As ek en my seun saam sit en droom oor sy toekoms, dalk oor sy eie besigheid, sal hy weet wat om vir my te vra en wat nie. As hy geld wil hê om ’n resieskar te koop, gaan ek hom nie help nie, want dit gaan hom nie help om by daardie droom uit te kom nie.
So, wat is God se droom vir jou? Waarheen wil God jou neem? Wanneer jy die antwoord het, sal jy weet wat om te vra en dan is die belofte ook waar vir jou: God sál dit vir jou gee.
Daarom, maak erns met jou verhouding met God. Maak seker dat julle op dieselfde golflengte is. Leer ken God se droom vir jou lewe en leef binne Sy wil.
Dan sal jy weet wat om te vra en jy sal glo dat God dit vir jou sal gee.
Teks
1 Johannes 5:14-21
Om oor na te dink
Hoeveel tyd belê jy in jou verhouding met God?
Weet jy wat God se droom vir jou lewe is?
Antwoord God vir jou wanneer jy vra?
Gebed
Vader, ek weet ek weet nie genoeg nie. Ek wil meer tyd met U deurbring, sodat ek U droom en wil vir my lewe kan leer ken. Sodat ek reg kan vra en werklik kan ontvang. Amen.