God se Woord in vandag se woorde

Duister dinge en dom woorde


Die Jesus volgelinge in die Bybelse tyd het dit nie maklik gehad nie. Van die regering se kant was daar druk om hulle uit die weg te ruim en die kerk van die dag het aktief probeer om hulle van die aarde af te vee.

Maar meer nog, mense in die direkte omgewing het hulle beskuldig van dinge wat nie waar was nie. Mense het gesê dat hulle vyandig teenoor die regering is en dat hulle skuldig is aan misdade.

Hierdie aanklagte was kwaadwillig teenoor die Christene gelê, maar as jy dieper delf, sien ’n mens dat onkunde baie keer die aanvalle gemotiveer het. Mense was in die duister en het nie die beginsels van die Christelike Godsdiens geken nie.

Daarom help Petrus hulle met die volgende voorstel: 15Die Here het ’n plan daarmee as julle elke dag so positief leef. Deur die regte dinge te doen sal julle al die kritiek stilmaak van mense wat lelike dinge oor julle sê. Hulle weet in elk geval nie waarvan hulle praat nie.

Hoe verdryf ’n mens onkunde? Jy bring kennis na die oppervlak. Die voorstel van Petrus om mense uit die duister te lig, is om christelike beginsels in die wêreld te gaan uitleef.

Dwase wat die Christene wil sink, het geen teenvoeter vir mense wat met integriteit leef nie. Daar kan nie geskinder word van mense wat goed doen in die strate van die lewe nie. Goeie dade kry net lof. Niks kan agter ’n mense se rug gesê word as jy binne die wil van God lewe en ’n verskil maak waar jy gaan nie.

Dit het nie baie verander daar buite nie. Jy sien, Christene het so deel geword van die wêreld, hulle dade ook maar soos die wêreld, dat daar nie meer ’n duidelike lyn te siene is nie.

As Christene maar dieselfde lewe lei as die res en doen soos hulle doen en meedoen in dade van die wêreld, gaan mense wonder wat maak die Christene dan nou soveel anders. Mense gaan nie weet wat die verskil is nie en onkunde gaan sy opwagting by die deur maak.

Dis met onkunde onder die arm waarmee die mense van die wêreld begin praatjies opmaak. Hulle verkeerde verstaan gaan verkeerde denke oor Christene saai, daarom moet jy só leef dat dit hulle onkundige praatjies sal stilmaak.

Ja, ons kán die kritikusse stilmaak. Lewe ’n lewe van integriteit. Jou ja moet jou ja wees en jou nee, reguit jou nee. Mense moet altyd kan weet dat hoe jy voor hulle is, jy ook agter hulle sal wees.

Maar dit is moeilik om in elke situasie te weet of jy reg lewe. Om my hiermee te help, vra ek deesdae myself net twee vrae: Is dit wat ek nou wil doen deel van die wysheid kolom of die dom kolom? Skakel dit wat nou by my mond uitkom die ligte aan of ploeter ek verder in die duister?

Duister dinge en dom woorde kweek onkunde. Onkunde stoot die deur oop vir onnodige kritiek en jaag mense weg van God. Laat ons daarom die opdrag ernstig opneem en in die lig lewe en toelaat dat wysheid ons pad teer. Dan sal ander mense kan sien wat regtig saak maak en met die krag van die Heilige Gees ook na die Verlosser toe draai.

Teks
1 Petrus 2:13-17

Om oor na te dink
Waar leef jy nog saam in die duister?
Waar maak jy nog dom keuses?
Hoe kan jy jou lewe verander om ander uit die duister te help?

Gebed
Vader, ek weet dat ek nog op plekke net soos die wêreld lewe en só onkunde saai. Mag ek anders begin leef sodat ander U liefde kan sien en verstaan en aangetrek sal word na U. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek