Ek glo in seën bid
As iemand vir jou sê hy glo in die wonder van ’n spesifieke produk, maar hy of sy het nog nie self die produk gebruik om regtig die wonder van die produk te kon ervaar nie, sou jy die produk gaan koop? Ek vermoed nie so nie.
Ek glo in gebed. Ek glo regtig in gebed omdat ek keer op keer die effek van gebed in my lewe ervaar. Maar wag, laat ek vir eers nie my eie ervaring deel nie, maar eerder dié van ’n minder bevoorregte dogtertjie wat elke aand gebid het.
Mense kon name instuur van minderbevoorregte mense wat nie geld gehad het om Kersfeesgeskenke te koop vir hulle kinders nie. Die dogtertjie se ouers en haar boetie word toe genooi na die geselligheid.
Groot was hulle verbasing dat daar ’n hele gedoente is met ’n groot ete en twee geskenke, met net seun of dogter daarop geskrywe. Toe die dogtertjie haar geskenk oopmaak, toe skree sy kliphard: “Dis die pop! Dis die pop!”
Verbaas vra haar moeder wat sy bedoel? Sy sê toe dat sy die pop in ’n advertensie gesien het en elke aand vir die Here gevra het of sy tog asseblief vir Kersfees so ’n pop kan kry.
Ek bedoel, wat is die odds? Ek vermoed mense wat nie glo nie, gaan een of ander komma nul, nul, nul, nul 1 som uitwerk. Ek wat gebed wat waar word al aan my lyf ervaar het, se oë skiet vol trane en ek begin sommer sing: My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen.
Gebed moet ‘n sentrale plek in ons lewe hê. Ons moet voortdurend met God praat en ons behoefte voor Hom neerlê. Ons moet Hom in gebed dank vir alles wat ons het. Ja, soms ook vir die uitdagings in ons pad, want ons weet die netto effek van al die uitdagings is dat ons sterker raak in ons geloof en ons ook nader aan God bring.
Ons wat glo in gebed, moet gebed nie net vir onsself hou nie. Ons moet vir ander mense bid. Ons moet die seën van die Here oor hulle bid, want as ons glo in gebed, kan die seën mos werklik daar by hulle in hulle omstandighede ook opdaag.
Ek vermoed Petrus ken ook van die impak van seën op ander mense. Daarom spreek hy hierdie mooi seën uit oor al die mense wat sy briewe lees – en so tussen hakies, ons is mos deel van die groep lesers: 2Ek bid dat God se oorvloedige goedheid en vrede julle lewens sal oorspoel! Mag julle kennis van God en van Jesus ons Here julle help om al hierdie hemelse gawes meer te beleef.
Mag jy meer en meer tyd met God deurbring in gebed. Mag jy meer en meer Sy Woord lees, want hier kry ’n mens baie wysheid. Hier leer jy meer en meer van God ken. Hier leer jy meer van Jesus en die Heilige Gees.
Hier leer jy hoe om die lewe daar buite as kind van God te leef. Dinge wat gebeur, goeie en slegte dinge, kom in perspektief en dan daal vrede oor jou neer. Jy ervaar Sy goedheid in elke klein dingetjie en die lewe raak ’n lied.
Mag jy ook glo in gebed en mag jy hierdie seën ook oor almal wat oor jou pad kom, spreek, sodat God se goedheid en vrede al hoe meer ’n werklikheid word.
Teks
2 Petrus 1:1-2
Om oor na te dink
Glo jy in gebed?
Glo jy in die krag wanneer ons seën oor ander uitspreek?
Watter naam plaas die Heilige Gees op jou hart om die seën oor uit te spreek?
Gebed
Here, ek wil die seëninge wat ek van U ontvang, ook oor ander bid wat dit nodig het. Amen.