En jou party trick?
Ek het ’n vriend in Pretoria wat, net soos ek, ’n klein seuntjie is oor nuwe tegnologie. Dis by hom wat ek geleer het van elektroniese bordjies insit in die motors van hekke, garage-deure, swembadpompe en selfs my besproeiing.
My kinders skud net altyd hul koppe, want dis eintlik my party trick. Almal sit nog so rustig, dan gryp ek my selfoon en sê: “Siri, irrigation on” en Boef!, daar druk die sproeiers hulle koppe deur die gras en almal moet spring om nie natgespuit te word nie.
Dan kry ek lekker en vertel vir almal hoe maklik dit is en bied sommer aan om hulle te help om dit ook te installeer. En gou praat ’n heel paar van hulle ook met hul fone om takies rondom die huis te verrig.
Ons kuier by my vriend in Pretoria en hy kom te hore van my mikrofoonsisteem se ontvanger wat in die water beland het. Nou werk dit so hinkepink. Hy gaan doen navorsing op die internet en sien al die nuwe funksies wat met die tweede weergawe saamkom.
Hy is sensitief vir die stem van die Here en ry om een te gaan koop. Sy oë blink toe ek na die dag se werk daar instap. Opgewonde gee hy dit vir my as geskenk. “Hoekom neem jy so lank om huis toe te kom?!”
Ek kry trane in my oë, want nou’s die gesukkel oor. Ek (en my vriend) kan nie wag om die pakkie oop te maak nie. Ons haal elke eenheid versigtig uit, draai dit in die rondte en lees selfs die owner’s manual om agter te kom wat dit alles doen.
Ons kyk nog YouTube video’s en as een net waag om ’n stukkie kritiek uit te spreek, rol ons oë: “Ag, die ou weet niks nie!” Orals waar ons kom, wys ek die kragpakkie van ’n mikrofoonstelsel. Vir die wat wil hoor en verstaan en ook vir die wat nie die vaagste idee het waaroor dit gaan nie.
Dan wonder ek hoekom ons nie dieselfde doen en opgewonde is oor die nuus van Jesus wat ons Lewensredder is nie? Die ouens wat Jesus op aarde ervaar en gesien het, was heel anders: 3Wat ons gesien en gehoor het, het ons so beïndruk dat ons julle eenvoudig daarvan moet vertel.
Jesus se koms na die aarde en wat Hy hier vir die hele mensdom kom doen het, is vir seker lewensveranderend. Dis lewensreddend! Mense word gekeer om nie op die verkeerde pad na hul dood te stap nie.
Die nuus is soveel groter as die grootste nuwe tegnologie. Dit bring soveel meer verandering in mense se lewens. Eintlik red dit mense se lewens. Ons is deel daarvan. Ons is gered.
En tog vertel ons dit nie vir almal nie. Dit is nie ons party trick nie.
Ek laat sak my kop in skaamte en wonder hoeveel ouens het die bus gemis omdat ek meermale van my nuwe tegnologie vertel het eerder as die nuus wat ouens se lewens kan red.
Laat ons nie mismoedig word nie, maar eerder weer probeer. Laat ons almal met wie ons skouers skuur, van die Goeie Nuus vertel. Sommige gaan ons aflag, maar ander gaan dalk net met die hulp van die Heilige Gees al die pad hemel toe lag.
Teks
1 Johannes 1:1-4
Om oor na te dink
Wat het Jesus se verlossing aan jou gedoen?
Wat is jou party trick?
Aan wie moet jy nie die nuus vertel nie?
Gebed
Here, ek wil graag die vrymoedigheid hê om die Goeie Nuus oor Jesus se verlossing met almal te deel. Help my asseblief waar ek aanmoediging nodig het. Amen.