God se Woord in vandag se woorde

Familie voordele


Om in ’n familie ingebore te word, het in die meeste gevalle voordele. Ek sê meeste gevalle, want ongelukkig is daar hier en daar families waar dit net afbreek.  

Die norm is darem dat ’n familie ’n plek of veilige ruimte is waar jy geleer word hoe om die wêreld aan te vat. Hier kry jy baie keer ’n springplank waarvandaan jy die lewe kan invlieg.  

Sommige families rus hulle kinders toe met opleiding en gee hulle ’n lekker kick- start vir hul eie lewe met ’n kar, dalk ’n huis of selfs ’n plaas of met ’n deel in die besigheid.  

Net solank hulle nie ’n leergeleentheid ontneem word nie. Net sodat Sheik Ahmed Zaki Yamani (1930) se sêding nie waar word nie. Hy het gesê: “My oupa het ’n kameel gery. My pa het ’n motor gery. Ek het in vliegtuie gevlieg. My seun sal ’n motor ry en my kleinseun sal ’n kameel ry.”  

Ek het nie ’n voordeel gehad van ’n familie wat my studies kon betaal nie. Ek moes self werk om dit te doen, maar op ’n manier was dit ’n groot voordeel, want dit het my so baie geleer van die lewe en mense. Dit het my gevorm vir wie ek vandag is en toegerus vir wat ek vandag doen.  

Wanneer jy deel is van God se familie, is daar ook reuse voordele. Ons spring ook op ’n springplank die wêreld in, veel ligter as die res, want ons sondelas kom nie saam nie.  

7Ons is alleen deel van hierdie hegte familie van God as ons optrede presies is soos God dit van ons verwag. Maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan God nie hou nie? vra jy dalk. Wel, dit is juis God se Seun, Jesus, se offerbloed wat ons geestelik silwerskoon was – daar bly nie een sonde oor nie! Dit beteken dat ons rein voor God kan staan. 

Die groot voordeel om aan God se familie te behoort, is dat ons saamdra aan die sukses van ons Broer Jesus se aardse lewe. Dit wat Hy hier reggekry het, word outomaties aan ons oorgedra.  

Dis Jesus se bloed wat geoffer is, wat dit vir ons verkry. Toe Jesus se bloed aan die kruis gevloei het, soos Hy doodgemaak moes word soos ’n lammetjie, het dit betaal vir die sondes wat ons almal aanvang.  

Om dit te verduidelik, gooi ek rooi kleursel in ’n glas water. Ek gooi dan Jik-water bietjie vir bietjie by die rooi water. En soos ek die Jik-water uit die beker by die glas gooi, raak die kleur al hoe ligter, totdat dit heeltemal skoon is en net soos water lyk.  

Sonde word net so uit ons lewe gewas. Daarom hoef ons nie meer pa te staan vir ons sonde nie. Ons word nie meer gestraf vir die verkeerde dade wat ons doen nie. Dankie tog daarvoor. Die een groot bekommernis wat uit ons lewe geneem word.  

Daar is nog vele meer voordele om deel te wees van die God-familie, maar laat ons die een net eers indrink. Laat dit ons manier van lewe bepaal. Laat ons elke dag die voordeel inspan, sodat ons lig deur die lewe loop. Moenie vergeet om die wêreld van die voordeel te vertel nie. Hulle het dit so nodig.  

Teks
1 Johannes 1:5-10 

Om oor na te dink
Watter voordele was daar in jou aardse familie?
Wat maak my met jou voordeel as deel van God se familie?
Weet ander om jou van die voordeel? 

Gebed
Ons Here, dankie dat ek deel mag wees van die God-familie. Dankie vir al die voordele. Mag ek dit deel met almal met wie ek saamlewe. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek