God se Woord in vandag se woorde

Gebed is ons petrol


Corrie Ten Boom het gesê gebed is die enjinkamer van elke gemeente. As die gemeente nie bid nie, is daar net een pad – afdraand. Gebed is die petrol waarop die gelowige loop. As daar nie petrol is nie, gaan hulle staan. Gebed is die begin en die einde van elke gelowige se bestaan.

Ek wonder sommer hardop of die tyd wat ek elke dag aan gebed bestee vir my genoeg petrol bymekaar maak om deur die dag te kom? En as ek so terugkyk, verstaan ek die kere toe ek buite die wil van God gespeel het. Dit was juis daar waar die petrol van my gebed opgeraak het en ek op my eie besluite geneem het.

Maak jy genoeg petrol bymekaar om deur die dag te kom?

2Bid gereeld en gedissiplineerd, is Paulus se voorstel aan ons. Die 1933-vertaling sê: 2Volhard in die gebed! ’n Skietgebedjie hier en daar is nie altyd voldoende nie. Nee, wanneer ’n mens volhard in gebed, beteken dit dat jy gereeld by God se voete gaan sit.

Ek wonder hoekom kom dit nie natuurlik vir ons nie. Ek wonder hoekom staan dit nie bo-aan ons doenlysie nie. Dalk omdat ons te skaam is om in die teenwoordigheid van die Here te wees? Dalk is dit omdat ons alleen praat en nie vir God hoor nie? Dalk omdat ons lewe net te gejaag is om nog plek te maak vir stil word?

Ek vermoed dat die tekort aan gebed die grootste faktor vir die chaos in ons lewe is.

Wanneer ’n paartjie wie se huwelik aan ’n draadjie gehang het in my pa se studeerkamer ingestap het, was sy eerste vraag altyd aan hulle: Bid julle nog saam?

Baie van ons sukkel om gedissiplineerd en gereeld te bid. Ons sukkel, want ons kop wil eenvoudig nie afskakel nie. Riëtte (skuilnaam) help ons met ’n klompie praktiese raad:

Ek is so aandagafleibaar. Soms hou ek my oë oop in die kerk wanneer die dominee bid, want as ek sien hoe hy met sy hande beduie en gevoelvolle gesigsuitdrukkings het, konsentreer ek beter.

Ek moet ook absolute stilte hê. Enige geluid lei my aandag af. En sodra ek begin bid, dink ek aan alles wat gedoen moet word, soos die wasmasjien aansit, werkgoed, ens. Ek sit ook graag taamlik voor in die kerk dat ander mense se bewegings nie my aandag aftrek nie.

Dit help ook vir my om my gebede neer te skryf.  Ek het ’n dankie-lys, en ’n vra-lys vir my getik.

Verder het ek ’n spesifieke metode waarvolgens ek bid waar ek my hand gebruik met my vyf vingers, ’n les wat ek by die kinderbediening doen en wat goed werk:

Die duim vir lofprysing (hier gebruik ek die liedboek as ek vashaak)
Wysvinger vir dankie sê
Die middelste vinger vir jammer (hier laat ek my deur die Gees lei, behalwe vir gereelde dinge soos ongeduld en selfbeheersing)
Ringvinger bid ek vir ander mense
Pinkie vir myself.

Die struktuur help my baie.

Kom by God uit. Elke dag en lank genoeg. Dan sal jou petrol nie opraak nie!

Teks
Kolossense 4:2-6

Om oor na te dink
Hoeveel tyd bestee jy aan gebed?
Raak jou petrol soms op?
Hoe moet jy maak?

Gebed
Vader, ek weet so goed dat ek nie sonder gebed deur die lewe kan gaan nie. Ek weet dat dit die petrol vir my is om deur die dag te kom. Ek sien gereeld die chaos wat gebeur as ek nie genoeg en gereeld by U uitkom nie. Ek wil graag gereeld en gedissiplineerd bid. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek