God se Woord in vandag se woorde

Gebed, smekinge, trane, geloof in God.


Ek wonder of ons regtig kan verstaan waardeur Jesus moes gaan toe Hy hier op aarde was? Ja, Hy was die Seun van God en Hy het die krag gehad om mense gesond te maak, duiwels uit mense te dryf, duisende op een slag kos te gee en selfs mense uit die dood laat opstaan.

Tog het daar een taak voor Hom gelê, waar selfs Sy bo-natuurlike kragte Hom nie kon help nie en dit was dat Hy moes doodgaan. Dit was ’n helse pad wat voor Hom gelê het en Hy het nie baie daarna uitgesien nie. Hy was bang daarvoor en dit het soos ’n berg voor Hom gelê.

Jesus het die hele sak patats voor God gaan neerlê en presies vir God verduidelik hoe Hy daaroor voel en wat Hy graag wil hê God se rol moet wees.

7Toe Jesus destyds op aarde was, het Hy God baie mooi gevra om Hom uit die dood te red. Hy het baie ernstig met trane in sy oë daarvoor gebid, omdat Hy geweet het dat God dit kan doen.

’n Bittere beker wat op Jesus gewag het. ’n Pad wat Hy geweet het Hy moes stap en uit gehoorsaamheid sou Hy dit ter wille van die mensdom deur worstel. Jesus kan dit egter nie op Sy eie doen nie en roep versterkings in. Hy gaan buig laag voor Sy Vader. Met trane in Sy oë, pak Hy Sy versugtinge een vir een uit. Hy glo dat God Hom kan help met hierdie groot berg wat voor Hom lê. Hy vertrou dat God Hom sal help. Hy weet dit is binne God se mag.

God het Sy deel gedoen en Jesus uit die dode gered.

Hier is ’n klomp bestanddele: gebed, smekinge, trane, geloof in God. Gooi al die bestanddele bymekaar en die speelvlak is gereed vir ’n wonderwerk.

My skoonsuster is in die hospitaal met akute leukemie. Sy was amper dood. Toe sy by die hospitaal ingestoot word, staan die dokters verwonderd dat sy nog lewe met die meer as 80% kankerselle in haar bloed.

Sy is ’n sterk vrou en baklei erg teen die kanker. Die behandeling vorder goed en na drie weke is die skadelike selle af na 5%. Sy het dae wanneer dit sleg gaan, maar ander dae skyn haar lig helder. Tot die dokters tap energie by haar.

Later kom een van die versorgingspersoneel by haar in en wil weet of sy bid. Ja, sê my skoonsuster. Daar is baie mense wat saam met haar bid.

O, sê die suster, want almal in die afdeling van die hospitaal is baie siek en het baie pyn. Sy wat my skoonsuster is, het die siekste ingekom, maar het wonderbaarlik op die herstelpad gevorder.

Dis wat gebed doen.

Die ander bestanddele is ook by: smekinge, trane en geloof in God. Want God kan. God kon vir Jesus uit die dood red. God kan ook vir jou uit jou doodse dal red. Want Hy kan.

Bid jy net. Smeek God. Laat jou trane loop en bly glo in God!

Teks
Hebreërs 5:7-10

Om oor na te dink
Bid jy?
Smeek jy?
Glo jy?

Gebed
Vader, U is die almagtige God. Vir U is daar niks onmoontlik nie. My probleem is eintlik vir U iets klein. Vir my is dit erg groot. Help my hier, Vader. Neem hierdie berg voor my weg. Ek glo U kan. In U is al my hoop gevestig. In Jesus se Naam, amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek