God se Woord in vandag se woorde

Gebed sonder twyfel en Tubby Sport


Ek het nog nooit vir Dolf ontmoet nie, maar ons gesels baie. Hy kom uit die diepe Johannesburg. Hy noem ’n graaf, ’n graaf. Hy het met ’n groot slag tot bekering gekom en is as gevolg van sy agtergrond nie bang om enige iemand aan te vat oor hul geloof in God nie. Selfs pastore en predikante en ander Godsmanne moet maar verbykom as hulle nie die Woord suiwer verkondig nie.

Ek leer baie by hom. Oor geloof en oor gebed en om te bid en te glo. Ek kry eendag die kostelike storie van hom.

Ek doen vryskut-herstelwerk aan kombuise en ingeboude kaste vir ‘n fabriek in die Wesrand. Ek ry ’n Renault TS 1300. My vriende het die kar Tubby Sport gedoop, as gevolg van my boepens.

Een aand werk ons laat en toe ek buite kom, is Tubby Sport net weg. Gesteel!

Ek kom by die huis met die baas se geleende panelvan en ek en my vrou bid en eis vir Tubby Sport terug.

Almal, selfs my familie, sê dat dit nie sommer sal gebeur nie. Die fabriek lê in ’n baie onveilige area waar karre gereeld gesteel word en vinnig by die chop shop opgesny word.

Op pad na die fabriek, gewaar ek waaragtig vir Tubby Sport met vier daggarokers in, verbyry. Ek sit hulle onmiddellik agterna in ‘n jaagtog wat die ou Flying Squad-movies na ‘n grap laat lyk.

Hulle het ‘n paar keer gestop en van die passasiers afgelaai, waar ek dan my bes probeer het om die rokers met die panelvan raak te ry.

Oor sypaadjies en driveways.

Naderhand, toe net die drywer oor was, het hy in ‘n doodloopstraat ingery en uitgespring en weggehardloop. My 9 mm-Parabellum was gelukkig by ‘n ammunisiewinkel, wagtend op die nuwe lisensiekaartjie.

So beantwoord die Here ons gebede en ek moes sorry sê dat ek my rattles uit die kot gegooi het.

Ander mense, selfs die familie het gesê dis nie moontlik nie, maar Dolf en sy vrou bid met geloof dat dit sal gebeur, al is die area nie so geskik vir gesteelde voertuie terugkry nie. Vir seker het twyfel nie in hom en sy vrou se gebede kom lê nie.

En nog minder is die volgende waar van hulle: 7-8 ‘n Mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. (1983-vertaling)

Raak ontslae van twyfel en glo in God. Wees bestendig in alles wat jy doen. In jou geloof en in jou gebede. Bly glo, al is die dinge aan die verkeerde kant van die treinspoor. Dan is die waarborg in plek: God sal gee en ons gelowiges sal ontvang.

Teks
Jakobus 1:1-8

Om oor na te dink
Bid jy gelowig?
Of maak jy ander planne?
Glo jy as jy bid?

Gebed
Vader, hoeveel keer het ek nie al gebid en dan sommer klaar ander planne gemaak nie. Help my om anders te lewe en te bly glo dat U nog ons gebede hoor en daaraan aandag gee. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek