God se Woord in vandag se woorde

Gebed van geloof


Wanneer ons een of ander krisis in ons lewe het, bid ons. Soms werk dit nie en dan voel ons so afgehaal. Dan voel dit vir ons asof ons gebed nie veel verder as die dak trek nie. Ons wil weet waar die fout lê.

Sommige kere sal mense sê ons bid nie reg nie. Sommige mense sal so vêr gaan om te sê dat daar dalk iets in ons lewe verkeerd is en wat God keer om die krisis wat in ons pad lê, uit die weg te ruim.

Die probleem met hierdie stellings, is dat te veel klem gelê word op wat die mens doen of nie doen nie. Die verhoring van gebed lê nie by die mens se wil nie, maar juis by die wil van God.

Daarom moet ’n mens versigtig wees om die volgende vers buite konteks te lees: 15En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word.

Die konteks hier is dat wanneer iemand siek is, hulle na die ouderlinge geneem moet word waar daar vir die persoon gebid word en hy of sy met olie gesalf word. Dit is wat die mens fisies moet doen.

Die gebed moet met ’n hoop geloof gepaard gaan. Wanneer ’n mens met geloof bid, glo jy met alles dat God daartoe in staat is om genesing te bring. Die vers sê nie dat die geloof die persoon gaan gesond maak nie.

Al is dit ’n dik straal geloof. Al glo almal presies dat God genesing kan bring, met geen twyfel in sig nie, is dit nog geen waarborg dat die persoon gesond sal word nie. God is die Een wat genesing kan bring, nie die sterkte van die geloof of die erns van die gebed self nie.

Die gebed van geloof is ’n onwrikbare vertroue dat God dit kan doen en dat Hy die beste sal doen vir die persoon. Onthou, God sien om die draai, Hy weet wat môre en oormôre gaan gebeur en binne hierdie toekomsvisie sal Hy die beste vir ons gee.

Gaan na die ouderlinge. Bid met ’n dik straal geloof. Los die twyfel by die deur. Laat alles oor aan God en Sy wil. Maar hier is nog ’n stukkie raad. As daar sonde in die pyp is, bely hulle en God sal jou vergewe.

Wanneer ’n mens in geloof bid, glo jy dat God kan. Wanneer ’n mens in geloof bid, gee jy die verantwoordelikheid aan God oor en los jy dit in Sy hande. Wanneer ’n mens in geloof bid, maak jy reeds vrede met die uitkoms, watter kant toe dit ookal gaan.

Dis is nie maklik nie. Dit is nie maklik om dan daar te sit en die uitkoms is nie soos jy gevra het nie. Maar dit is deel van gelowig bid. Laat U wil geskied. Doen soos U goed dink Here. Ek sal vrede kry.

Ek staan gister by ’n vriend wat van Sub A af saam kom. Sy vrou is vol kanker. Ek bid vir hulle hier in my kamer. Ek bid gelowig saam. Dié gebed is moeilik. Maar ek bly bid, bid gelowig saam …

Teks
Jakobus 5:13-20

Om oor na te dink
Hoe bid jy?
Wie bid saam?
Kan en wil jy die pakkie in God se hande los?

Gebed
Vader, U ken my hartsbegeerte. U ken my wil. Dis nie so maklik om alles oor te laat aan U wil nie, Vader. Gee my krag en wysheid om nie net gelowig te bid nie, maar alles oor te laat in U hande en wil. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek