God se Woord in vandag se woorde

Geduldig vertrou


In my familie is daar iemand met erge kanker. In my skoonfamilie is daar iemand met erge kanker. In my vriendekring is daar ook iemand met woeste kanker.

Ek raak vroeg wakker en bid vir elkeen.

Ek weet nie of ek dit sou gemaak het nie. Die behandelings is erg. Die een is aan die begin van ’n ses-maande-pad. Die een, so pas klaar met die tweede laaste ene, amper uitgemergel.

Die ander, so ’n klein entjie af in die twintig-weke-pad, met een toediening ’n week. Elke keer heel onder op klippertjies en net soos hy weer bo is, breek die volgende afspraak aan.

Dit is sulke tye wat ’n mens nie lekker weet wat om te sê nie. Jy is so bang dat die teksversie wat jy probeer gee, eenvoudig te klein is om oor die gaping van die seer te strek. Dis sulke tye wat ons mensies ons onvermoë so deeglik besef. Selfs in die ondersteuning van ons geliefdes, sit ons soms met gapende monde en geen woorde nie.

My een vriend kom sit om my tafel en terwyl hy sy koue tee drink, vertel hy van die swaar in sy lewe. Hy vertel van die mense om hom wat sy drome een vir een stukkend gooi. Hy vertel hoe hy alles in die stryd werp om kop bo water te hou.

Hy kan nie in die toekoms sien nie, maar menslik gesproke, is sy dae getel. Hy wonder van watter front af hy die volgende taktiek moet lanseer. Hy is ’n planmaker en ’n doener en sal nie ’n klippie ongeroer los om self by die oplossing op te daag nie.

Hy vertel dat hy so graag met een van die rolspelers om ’n tafel wil gaan sit om al die boontjies een vir een saam met hom te tel. Hy weet dit sal help. Hy glo dit sal sy saak baie help.

En tog kry hy nie die groen lig nie.

Toe stop hy in die middel en sê: “Ek dink die Here sê nou vir my dat ek dit in Sy hande moet los. Ek moet nou my eie gestoei los.”

Elke straat lyk soos ’n doodloopstraat, maar in God se oë is daar altyd ’n deur-pad. ’n Pad deur die swaar. ’n Pad met ’n deur na die vryheid. ’n Pad waar die deur oopmaak op vrede. Dit is ’n belofte uit God se Woord.

Miskien moet ons meer en weer die pakkie in God se hande sit en dit daar los. 12… Hulle het gekry wat God beloof het, omdat hulle geduldig was en op God bly vertrou het.

Hulle het gekry! Hoekom? Omdat hulle geduldig gewag het op God wat Sy ding sal doen. Hulle het bly vertrou, nee, nie gestoei nie, bly vertrou dat God vir hulle sal voorsien. Bly vertrou dat Hy hulle sal aanraak.

Mag jy ook geduldig wag – al is dit nie ons almal se styl nie. Mag jy bly vertrou dat God Sy beloftes waar sal maak.

Teks
Hebreërs 6:9-11

Om oor na te dink
Hoe lyk jou geduld?
Hoe lyk jou geloof?
Hoe lyk God se beloftes?

Gebed
Here, aan U kom al die eer toe. U weet die beste. U het ’n hoop beloftes vir my. Dis nou die tyd dat hulle waar word, Here. Help my om geduldig te glo en te vertrou. In Jesus se Naam, amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek