Gee uit die mossienes
Ons sit in die bakkie naby ’n toring om Sondag se preek in die wolke te kry. Die sein is maar sleg. Ons ry heeldag van die een toring na die ander en dan is ’n mens geneig om taai te raak. Taai vir jouself. Taai vir die internet. Taai vir enige iets wat nou onverwags oor jou pad geloop kom.
Hier kom staan ’n man langs die passasiersdeur. Hy het ’n lang storie oor sy dogtertjie wat in die skool is en hy wat as gevolg van Covid sy werk verloor het. Nee, hy het eintlik alles verloor.
Hy sê hy is opgevoed en sy pa was ‘n sendeling. Ek wonder of hy die kruis agterop die bakkie gesien het. Hy gaan te lank na my sin aan en ek werk aan op my rekenaar.
Renata luister aandagtig en stem hier en daar in. Ek raak ‘n bietjie moeg vir die storie en van die geldjie wat hy benodig vir die safety boots, want dan het hy ’n werk, het die eienaar van die besigheid om die draai gesê.
Ek wil sommer ry, maar ek sien Renata maak die mossienes oop om haar beursie te kry. Sy haal ’n paar note uit. Ek wil keer, maar daar gaan dit. Jy sien, ek gee nie geld nie. Ek het myself dit voorgeneem, want ek weet nie of die ander een dit wys gaan spandeer nie.
Ek kyk met sulke vraagtekens na haar toe hy aanstaltes maak. Sy weet sommer wat ek dink en vra my of ek gesien het dat die man gebid het voor hy na ons toe gekom het.
Ek het natuurlik nie.
Sy sê dat sy hom geglo het. Sy het sy taal verstaan. Sy het geweet die Heilige Gees het haar gelei om hom te help. Sy was maar net getrou aan die opdrag wat sy ontvang het.
Die volgende oggend bid ons saam. Toe bid sy vir Caleb. Sy bid vir sy dogtertjie en sy vrou en dat dit goed sal gaan met sy werk. Sy bid en vra dat hy weer op sy voete sal kom om vir sy gesin te sorg.
27Laat ek vir julle sê watse soort godsdiens God ons Vader as eg en eerlik sien: as jy bereid is om dié mense te help wat nie vir hulleself kan sorg nie, maar in die nood is, is jy besig met die regte godsdiens.
My vrou was en is besig met die regte godsdiens. Die een wat mense se nood verlig. Sy sien dit raak. Sy is beskikbaar vir die Gees om haar gedagtes aan te raak. Maar meer nog. Sy doen dit. Sy leef dit. Sy gaan oor in aksie.
Ai, dis jammer dat ek net so onaangeraak gesit het. Dis jammer dat ek nie sensitief was vir die werking van die Heilige Gees nie. Mag Hy my genadig wees. My sondes van niksdoen, vergewe en my help om volgende keer my geloof in aksie te stel en ’n verskil in ander se lewens te maak.
Teks
Jakobus 1:19-27
Om oor na te dink
Doen jy?
Hoor jy?
Wys jy?
Gebed
Here, ek moet bieg dat ek nie altyd die Heilige Gees se stem hoor nie. Soms doen ek nie. Soms stap ek verby en is net te lui. Vergewe my. Ek wil help. In Jesus se Naam. Amen.