Geloof dryf vrees uit
Die inenting teen COVID-19 bring baie verskillende opinies na vore. Party sommer ernstig. So kry ek ’n klankgreep van ’n prediker wat kwaai is. Hy gebruik woorde wat mense voor die bors gryp. Hy jak mense af en gee sommige ’n baie lelike label.
Sy opinie is baie eenvoudig. Indien jy die inenting neem, gaan jy hel toe en klaar! Dis die merk van die bees en as jy daaraan gaan deelneem, verkoop jy jou reg om in die hemel te kom. Dis die regerings wat jou wese wil oorneem en die inenting gaan jou brein stadig maar seker na hulle pype vorm en laat dans.
Ek dink lank oor sy opinie en sy manier van doen. Hy maak baie mense bang en ek voel self hoe vrees by my deur kom klop. Elke ou het die reg tot sy eie opinie, maar om vrees by mense te laat wortelskiet, is nie heeltemal die styl wat Jesus sou gevolg het nie.
Jesus het in liefde gekom en in liefde reggehelp. Hy het saggies gepraat en werklik omgegee. Hy het mense rustig probeer maak en hulle sag, soos ’n herder, uit die gevare na die lig gelei. En op dié Jesus vertrou ek. Ek vertrou dat God ons ook deur hierdie moeilike tyd in die wêreld sal lei.
Dit is die vertroue in God wat ons sal bly beskerm, wat die vrees vir eers buite hou en ons weer kans laat sien om vorentoe te gaan.
Die tyd waarin Moses se ouers hier op aarde was, was ook ’n tyd van baie vrees. Die koning was bang vir die oorheersing van die Israeliete en het ’n wet uitgevaardig wat gesê het dat elke eersgebore seun doodgemaak moes word. Watter vrees het dit nie by die ouers ingeboesem nie?
Tog het Moses se ouers dit anders beleef: 23Moses se pa en ma het ook so op God vertrou. Nadat hy gebore is, het hulle Moses drie maande lank weggesteek, want die koning het gesê dat die kinders doodgemaak moes word. Hulle het egter besef dat Moses baie spesiaal was en was nie bang vir wat die koning gesê het nie.
Terwyl almal gevrees het dat die einde hier is en die volk uitgewis gaan word, het Moses se ouers in God bly glo. Hulle het bly glo in die redding van die volk. Hulle het bly glo in God se verlossingsplan. Hulle het besef dat hulle seun geroepe is, dat hy anders is. In ’n tyd toe babas soos Moses soos diere doodgemaak is, was sy ouers rustig, het hulle nie gevrees nie, want hulle het bly glo.
Dis nie altyd maklik om, wanneer alles om ons brand, nie ook saam met die hordes in ’n rigting te storm nie. Dis moeilik om kalm te bly, as die een voice note na die ander rondvlieg en die einde van die wêreld aankondig. Dis moeilik om nie ook bang te word en te wonder of die inenting nou lank genoeg getoets is om seker te wees dat daar nie langtermyn marakkas gaan wees nie.
Miskien moet ons hier doen soos Moses se ouers en bly glo. Glo dat God ons nie vergeet het nie. Glo dat God, soos Hy vir Sy volk ’n uitkoms gebied het, vandag nog vir ons uitkoms sal bring. Dan sal ons rustig wees en sal vrees vir eers verbyhou.
Teks
Hebreërs 11:20-31
Om oor na te dink
Hoe dik loop jou vrees?
Soek jy kalmte?
Hoe dik is jou geloof?
Gebed
Here, ek moet bieg dat die dinge my soms bangmaak. Ek het nie antwoorde nie en as die ouens wat dink hulle weet alles, so hard praat, is ek onseker. En ek weet dis die onsekerheid wat vrees aanblaas. Daarom sê ek dit nou: Ek glo in U. Ek glo dat U die antwoord is. Amen.