Geloof slegs deur ’n verhouding
Ons moet ’n ander kamera vir die bediening koop, maar om dit reg te kry, moet ons eers die ou ene verkoop. Ek adverteer op Gumtree. Dit was een oggend baie vroeg. Ek kry my eerste oproep net na vyf.
Die ou is vasbeslote. Hy vat die kamera. Hy vra nie eers vrae oor die toestand van die kamera nie. Hy is ernstig. Hy stuur net na 08:00 iemand om dit te kom optel. Ek sê dis reg, die persoon moet sommer die kontant saambring. Die ou sê dat hy nie nou soveel geld het nie en wil weet by watter bank ek is. Hy doen sommer ’n direct EFT. Ek sê cash is king. Boef, daar sit hy die telefoon neer.
Nog ’n klomp probeer met stories van die persoon wat op ’n boot vêr is en sal reël vir ’n koerier, ens. Sodra ek dan sê dit is slegs kontant, stop die kommunikasie summier.
Toe my tjommie my bel en raad vra om hulle dienste op te neem, vertel ek hom van die kamera. Hy sê hulle stel belang. Ek stof die kamera af, sit dit in ’n boks, reël vir vervoer en daar gaan die kamera, sonder ’n sent in my hande of my rekening.
Nou wat is die verskil? Ek ken my tjommie. Ons het ’n jarelange verhouding. Ek ken sy etiek. Ek weet wat hy belowe, sal hy doen. Ek het nie kontant in die hand nodig voordat ek die kamera vir hom hoef te gee nie. Hy sal my betaal.
Ek leer uit die klomp kansvatters dat vertroue gebou word op ’n verhouding. Ek besef dat ons nie eintlik God blindelings kan vertrou as ons Hom nie ken nie. En dis die probleem met die meeste mense wat nie God kan vertrou of in Hom glo nie. Hulle ken Hom nie.
Moses het God geken. Hy het ’n persoonlike verhouding met Hom gehad. Toe hy dus moes kies of hy in die sonde in die paleis gaan baljaar of eerder die harde pad saam met God vat, kies Hy laasgenoemde. Binne sy verhouding met God, kon hy die moeilike een kies, want hy het geweet God sal vir hom voorsien.
27Hy het besef dat God hom iewers in die toekoms dubbel en dwars sou beloon. Hy het toe sy goed gevat en is uit Egipte uit, sonder om bang te wees vir wat die koning sou sê of doen, want hy het op God vertrou. Hy het hom glad nie van koers af laat bring nie; dit was byna of hy God by hom kon sien, al is God onsigbaar. Dit is later in sy lewe weer bewys.
Ons is bang vir môre. Ons is bang vir die uitdaging om die draai. Ons is onseker oor die keuses by die kruispaaie van ons lewe. Ons is onseker of God regtig vir ons sal voorsien. En die rede is dat ons verhouding met God van so ’n aard is dat ons Hom nie regtig ken nie. Daar is nie iets waarop ons ons vertroue sal bou nie en sal by Hom ook eerder kontant wil hê as om Hom te vertrou om Sy belofte na te kom.
Dis ons fout. Ons moet meer tyd saam met God spandeer. Ons moet meer tyd in ons besige dag maak om by God te gaan stilsit. Dan sal ons Sy stem leer ken. Dan sal daar ’n verhouding ontstaan waarin ons vertroue en geloof in Hom al sterker en sterker sal word. Dan sal ons Hom vertrou en selfs die moeilike pad kies, want ons sal seker weet, Hy sal vir ons voorsien.
Teks
Hebreërs 11:20-31
Om oor na te dink
Hoeveel tyd bring jy met God deur?
Vertrou jy Hom?
Glo jy in Sy beloftes vir jou lewe?
Gebed
Vader, gee my asseblief nog ‘n porsie geloof, sodat ek soos Moses kan waag. Ek weet ek kan nie dinge op my eie doen nie. Help my om U die hoogste prioriteit van my dag te maak. In Jesus se Naam, amen.