God se Woord in vandag se woorde

Geloof wat wankel


Dit raak al hoe moeiliker om te glo. Hoe slimmer die mens word, hoe meer hy die wetenskap leer ken, hoe dieper hy in die magtige heelal grawe, hoe groter die uitdaging om soos ’n kind te glo. 

Jesus het mos gesê ons moet weer soos kinders glo om die ewige lewe te beërwe. Wanneer die slim mense met al hulle kennis opdaag by God se Woord is daar veel meer vraagtekens as antwoorde. 

Om te midde van al die mens se slimmigheid en ongelowiges wat al hoe harde skree, wonder ’n mens of jy nog in die regte rigting glo. Hulle maak ’n mens deurmekaar en onseker van jou eie geloof.  

Op ’n manier wil hulle jou geloof kom steel. 

Dis sulke tyd wat ons maar weer ons Bybels moet vat en lees wat daarin geskryf staan. Petrus weet ook dat ons soms gaan wonder of ons nog in die regte rigting op pad is en soms wonder oor ons geloof.  

Daarom stel hy voor: 2Doen die volgende: Luister na alles wat die profete van die Here vir julle sê. En luister ook na die voorskrifte wat ons Here en Verlosser deur julle apostels vir julle gegee het. 

Weet jy hoeveel voorspellings is daar in die Ou Testament van Jesus se koms na die aarde? Jesaja 53 voorspel Jesus se koms na die aarde. Dit vertel van Jesus wat deur die mense verstoot gaan word en na wie mense nie eers wil kyk nie.  

Dit skets die prentjie van Jesus wat baie lyding moet deurmaak. Juis ons lyding wat Jesus kom dra het. Jesaja 53:5 “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” 

Honderde jare voordat Jesus na die aarde gekom het, het mense al oor Hom gepraat en voorspel wat gaan gebeur. Dit was nie maar net stories in die wind nie. Dit het werklik toe presies so gebeur.  

Duik jou geloof soms in die hek? Wonder jy partykeer of die ander mense wat glo geloof is vir die voëls, dalk ‘n punt beet het? Dis sulke tyd wat ons moet tyd maak en op ’n klip gaan sit en weer die profete van die Ou Testament gaan opsoek.  

Dis hier waar ons geloof versterk word. Dis hier waar ons geloof weer wieletjies kry en waar ons staande kan bly teen die bose wat ons probeer weglok van die waarheid van ons Verlosser wat gesterf het vir al ons sondes. 

As jy nog steeds sukkel om te glo, lees die briewe van die Apostels. Hulle het met hul eie oë vir Jesus gesien en saam met Hom op die aarde gestap. Hulle bring vir ons eerstehandse kennis oor Jesus se lewe hier op aarde. 

Ek vermoed om so nou en dan jou geloof te bevraagteken, is nie so ongewoon nie. Ons het egter ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie van die pad afgedruk word en ons geloof gesteel word nie. Daarom: Lees maar jou Bybel en laat toe dat jou geloof voortdurend versterk word, sodat ons dié wat sukkel, kan saamsleep.  

Teks
2 Petrus 3:1-7 

Om oor na te dink
Sukkel jy soms om te glo?
Waar en hoe versterk jy jou geloof?
Wie moet jy  met hul wankelrige geloof help? 

Gebed
Vader, my geloof wankel ook soms, maar ek sal U nooit verlaat nie. Ek sal sorg dat ek dag vir dag deur U Woord loop om seker te maak my geloof bly sterk in U. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek