Genadereën
Hier gaat ons met 2018!
Ek bid vir jou ’n voorspoedige nuwe jaar toe. Ja, bid, want sonder God kan ons dit nie waag nie. Ek bid dat God jou sal seën met vrede, vreugde, voorspoed en baie lag. Mag Hy jou ook seën met krag en wysheid om jou deur die moeilike tye te lei.
Meer as die helfte van verlede jaar het ons deur Kolossense gestap. Daar is nog 18 stukke oor voordat ons die briewe wat Paulus aan die mense van Tessalonika gestuur het, begin lees. Maar voordat ons weer die toue van Kolossense optel, deel ek graag die skryfstuk wat ek op Kersdag geskryf het:
Hier waar ons in die karavaan in die groen Tuinroete sit, omring deur die handewerk van God se groen vingers, sak ’n sagte, deurdringende reënbui uit. Ek lê in die bed en dink terug aan die jaar wat verby is. Dit was ’n rowwe jaar. ’n Jaar met ’n hoop uitdagings en tog sien ek dat ons daardeur is. Hoe weet ’n mens nie aldag nie, maar wat ek vir seker glo, is dat God ons op ’n wonderbaarlike manier daardeur getrek het. Soos die reën oor ons neersif, so het Sy genade keer op keer oor ons uitgesak.
Ek besef maar net weer dat dit sonder Sy bystand en hulp sou getêre het.
Soos ek in die bed lê, dink ek terug aan die aand toe Josef van deur tot deur geloop en benoud gevra het vir ’n blyplekkie, maar elke keer dieselfde antwoord gekry het: “Jammer, meneer, U weet mos dis sensustyd. Orals waar jy oor ons dorpie kyk, is daar net mens. Ons het nie een gaatjie oor vir mense om te slaap nie.”
Josef hou nie op nie en is dankbaar toe een eienaar sy stal aanbied. Solank Maria net ’n dak oor haar kop het. So nederig. Haar tyd is naby.
En op ’n manier het God se genade ook oor hulle gereën.
’n Treffende paradoks: Die koms van die Koning van alle konings is nie met trompetgeskal aangekondig of op elke nuusplatform uitgeblêr nie, maar met ’n engelekoor aan gewone bloukraagwerkers – skaapwagters.
Wanneer die wyse manne die mooi geskenke een vir een voor Jesus neersit, kan ek nie anders as om in die agtergrond teen die muur ’n groot swaar houtkruis te sien staan nie.
Dis My geskenk. ’n Geskenk van lewe. Die ewige lewe.
Ja, daar in die stal teen die muur reën God se genade oor my en jou en al die mense van die wêreld. Hierdie baba Jesus het gekom om die mensdom se straf, se las op Hom te neem. Nou kan ek en jy ons sondes bely en weet dat dit heeltemal vergewe is en nooit teen ons gehou gaan word nie. Niemand en niks kan die belofte van ’n ewige lewe van ons wegvat nie.
Dit is genade wat reën en reën en reën.
Ek weet die nuwe jaar gaan ook ’n paar uitdagings hê. Maar ek weet ook dat God se genadereën ook hierdie jaar deurdringend en aanmekaar oor ons sal uitsak. Dis hoe God is. Ek weet ek sal aan die einde van die jaar weer kan terugkyk en al die plekkies sien waar God my deur alles gedra en soms gesleep het.
God se genade sal weer reën.
Ek raak rustig oor die nuwe jaar en ook so effe emosioneel oor God se genadereën. En terwyl die reën op ons val, besef ek dat ek dit nie vir myself kan hou nie. Daar is so baie ouens wat in die droogte vasgevang is. Daar is soveel mense wat in die woestyn rondploeter en smag na God se genadereën. Ek kan nie daaroor stilbly nie. Ek kan nie so selfsugtig wees en die reën net vir myself hou nie. Ek moet dit gaan uitdeel. Uit dankbaarheid wil, kan en moet ek 12… ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid (1983- vertaling) wees.
Mag God se genadereën oor ander reën omdat ek en jy bereid is om dit te deel.
Mag 2018 ’n grote wees vir jou en al die ander wat om jou is.
Teks
1 Tim 4:6-16
Om oor na te dink
Hoe reën God se genade oor jou?
Waar kort jy genade?
Wie om jou kort God se genadereën?
Gebed
Dankie klink so klein vir al die genadereën wat U oor ons uitstort, Vader. Ek glo dat ek my dankbaarheid kan bewys deur die genade te gaan uitleef aan die mense rondom my. Amen.