Glo vir nog ’n kans
Baie mense kry baie swaar. Baie besighede vou en mense sit sonder werk. Mense sit sonder inkomste. Mense sit sonder brood op die tafel. Dit voel of die spanning jou wil opvreet. Nie net finansiële spanning nie, maar ook spanning in verhoudings en so meer.
Hoe maak ’n mens dan?
Dis sulke tye wanneer ’n mens net aan jou geloof moet vashou. Ons moet glo dat God vir ons sal voorsien. Ons moet glo dat Hy vir ons sal help. Ons moet glo dat Hy saam met ons die geveg sal veg en die uitkoms sal bring.
Soos Hy die manne in die Ou Testament keer op keer uitgehelp het.
33… Leeus kon party van hulle nie verskeur nie, 34vure kon ander nie brand nie en mense kon party van hulle nie met swaarde doodmaak nie. Hoewel sommige hopeloos en swak gelyk het, het God hulle sterk gemaak. Ander het weer soos tiere in oorloë geveg en die leërs van vreemde magte verwilder.
Hoekom? Want hulle het geglo dat God hulle sou help met die uitdaging wat voor in hulle pad gelê het.
Ons almal kom een of ander tyd voor ’n uitdaging. Een of ander tyd loop die lewe nie soos ons gedink het dit gaan loop nie en ons lewe verander eensklaps. Soos Hein s’n:
God sê nie dit gaan maklik wees nie, maar op Sy tyd laat Hy alles ten goede meewerk vir die wat glo.
Ek kan getuig dat die Here my ‘n tweede kans gegee het. In September 2008 was ek op my motorfiets op pad huis toe. Nie te vinnig nie. Nie onverskillig nie. Ek het slegs 2 km van my werk af gebly.
Op pad is ek deur ‘n dronk bestuurder omgery. My knie is vergruis en gevolglik is my regterbeen bo die knie afgesit.
Die Here het alles ten goede laat meewerk, want ek leef nog!
Alhoewel ek amper al my bloed verloor het en in mediese terme ‘n HB van 2 gehad het, het ek oorleef. As jy al jou bloed het, is normaal tussen 9 en 12. Natuurlik was ek nie op ‘n goeie plek nie, maar die Here het gesorg dat ek my werk behou het en ten volle herstel het.
Ek het vertrou op Hom, soos in Psalm 91 en Hy het my nie in die steek gelaat nie. Ek glo en vertrou die liewe Heer se wil is altyd goed.
Alles loop nie altyd klopdisselboom met Hein nie. Daar is tye wanneer hy nog op die grondpad ry. Daar is tye wanneer sy verhouding nog steeds in die hek duik, maar hy bly glo en vertrou dat God dinge vir hom sal laat uitwerk en hom nog ’n kans sal gee. God help nie net die ouens in die Ou Testament nie, maar ook nou, hier, vandag. Hy sal ook vir jou help! Glo net.
Teks
Hebreërs 11:32-40
Om oor na te dink
Glo jy dat God nog vandag met ons woel?
Glo jy dat God nog kanse gee?
Glo jy dat God vir jou uitkoms kan bied?
Gebed
Vader, ek glo. Help my! Amen.