God is eintlik die baas
As Jesus vandag daar by jou instap en vir jou iets vra om te doen, is ek doodseker dat jy dit tot die beste van jou vermoë sal doen. Jy sal alles uithaal en geen moeite sal te veel wees om die opdrag van Jesus uit te voer nie, nè?
Die groot vraag is of ons dieselfde by die werk doen. Haal jy alles uit by die werk? Gee jy die heeltyd jou beste? Doen jy alles asof jy dit vir Jesus doen?
Die opdrag oor hoe ons in die wêreld moet werk is baie reguit, eenvoudig en verstaanbaar: 5As julle slawe is sonder vryheid en aan iemand anders behoort, moet julle na hierdie base van julle luister. Respekteer hulle en behandel hulle met ontsag. Wat julle vir hulle doen, moet julle eerlik en opreg doen, asof julle dit vir Christus doen. 6Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie.
Ons Christene moet die voorbeeld wees. Ons moet die ander werknemers en werkgewers wys hoe word dinge gedoen. In alle omstandighede moet ons ons beste gee. Ons moet alles doen asof ons dit vir Jesus doen.
En dadelik reageer mense en sê: Ek werk beslis nie vir Jesus nie. My baas is nie naastenby soos Hy nie. Inteendeel! Hy of sy is eintlik ’n dit se daai en ek sukkel om hom of haar te respekteer. Eintlik kan ’n mens nie na so ’n persoon luister nie.
Tog moet ons in alle omstandighede hard werk, want sien, ons werk nie eintlik vir die baas nie. Ons werk eintlik vir God: 7Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here. Laat dit straal uit alles wat julle doen.
Hier is juis ’n getuienis geleentheid. Ons kan vir ons medewerkers en die baas wys dat, ongeag die omstandighede, ons nog steeds kan glimlag. Ons kan nog steeds ’n ekstra myl verder werk. Ons kan liefde ten spyte van liefdeloosheid uitleef, omdat ons vir ons ander Baas werk. Die fokus van ons werk is dan nie op die werkgewer hier op aarde nie, maar op God. Wanneer ons besef dat ons eintlik vir God werk, lyk ons manier van doen anders. Dan kan ons glimlag en liefde uitstraal, al is die aardse omstandighede hoe moeilik.
God roep elkeen van ons om ’n verskil te maak en onthou: Dit is oral waar ons gaan. Ook by die werk. Juis by die werk het ons ’n groot geleentheid om die evangelie te bring. Sonder woorde. Net met dade kan ons vir ons kollegas en werkgewers wys wat Jesus in ons lewe kom maak het. Later sal hulle ook daarna dors en vra wat jou so anders maak.
Moenie dat hierdie getuienis geleentheid ooit verbyglip nie. Moenie in ander se praatjies ingetrek word en saampraat deur ander sleg te sê nie. Moenie saam met ander die werk se tyd steel en dinge op die rekenaar en internet doen wat nie toelaatbaar is in werkstyd nie. Onthou dat jy eintlik vir Jesus werk.
Wanneer jou fokus verander en jy nie meer op jou wêreldse baas fokus nie, maar op God, verander alles. Ewe skielik hoef jy nie meer bang te wees vir die moeilike vergadering nie, want jou Goddelike baas sal vir jou cover. Maar meer nog, jou gedrag, jou manier van doen, sal verander. Mense sal jou andersheid ervaar. Liefde sal daagliks uit jou stroom. Ander sal anders wees, as gevolg van jou, omdat jy nie meer vir ’n aardse baas werk nie, maar vir jou hemelse Baas.
Om oor na te dink
Hoe werk jy?
Vir wie werk jy?
Raak ander anders as gevolg van jou?
Gebed
Vader, dis nie altyd maklik om te werk nie. Ek weet dat ek moet werk asof dit alles vir U is, maar ek sukkel. Ek sukkel om die prentjie te sien waar U die Baas is. Help my om vir U te werk. Amen