God gebruik gewone mense soos ons
Die vrou was ’n hoer. Sy het nie goeie waardes gehad nie. As die manne ’n plekkie met byvoordele gesoek het om oor te slaap, was haar plek net die regte ene gewees. Hier het dit jolig gegaan.
Alles is nie altyd bo die tafel gedoen nie. Sy het dinge vir die regering weggesteek en as hulle haar daaroor kom vra, het sy vir hulle gelieg. Op ’n manier kan ’n mens sê dat sy deel was van daardie tyd se onderwêreld.
Die dag toe die stene van die dorpsmure een vir een begin aftuimel, totdat daar nie meer een stukkie muur regop staan nie, was dit net die gedeelte waarin haar huis was, wat heel gebly het.
God het dit gedoen.
Dis is natuurlik die verhaal van Ragab. Sy was ’n vrou van onsedelike waardes, maar êrens langs die pad het sy tot inkeer gekom. 31En dan was daar nog Ragab, die straatvrou. Sy het in God geglo en die Israelitiese spioene gehelp. Daarom het God haar nie saam met al die ander ongehoorsame mense van die stad doodgemaak nie.
Eers het die skrywer van Hebreërs die groot kanonne uit die Ou Testament as voorbeelde gebruik. Abel, Henog, Noag en natuurlik Abraham, Isak en Jakob. Hy het ook die pad wat die volk geneem het om by die beloofde land uit te kom, gebruik om te wys dat geloof die sleutel tot sukses is.
Nou verander hy ’n bietjie die lyn van sy storie en hy gebruik ’n gewone mens, of liewers ’n gewone, sondige mense as voorbeeld van wat geloof kan vermag. God gebruik gewone mense om Sy planne hier op aarde uit te voer.
Toe God die mure van Jerigo omgooi, bly die gedeelte waarin Ragab se huis was, staande. Hoekom? Omdat sy in God geglo het en sy getrou was aan haar opdrag om die spioene van Israel weg te steek. Sy kon hulle ook van inligting voorsien dat die hele stad se inwoners bang is vir die inval van die Israeliete.
God het baie planne vir ons wêreld vandag. Baie van die planne bly net op papier planne, want die gewone mense wat dit moet uitvoer, is missing in action. Baie dink hulle is te sondig. Baie dink hulle is nie goed genoeg om iets vir God te doen nie.
Dit is alles bogstories. God kan enige iemand gebruik. Maak nie saak hoe jou verlede lyk nie. Maak nie saak hoe jou prentjie van jouself lyk nie. Maak nie saak wat jy al aangevang het nie. God kan jou gebruik. Selfs al kos dit ’n wonderwerk van God se kant om jou staande te hou.
Net daar waar jy is, wil God jou gebruik. Jy moet dit net glo.
Ek eet ontbyt saam met ’n vriend wat kursusse aanbied. Hy sê hy sukkel met die f-woord. Dit glip net so uit. Hy vertel ook dat hy na die inleiding van die kursus altyd vir mense sê hulle moet hulle oë toemaak, hy gaan nou bid. Mense agtervolg hom toilet toe om daar vir hom dankie te sê. Dit het vir hulle so baie beteken.
Net daar waar jy is, wil God jou gebruik. Jy moet dit net glo.
Teks
Hebreërs 11:20-31
Om oor na te dink
Glo jy dat God jou wil gebruik?
Wat keer jou?
Hoe sterk is jou geloof?
Gebed
Here, ek sukkel om te dink dat U my wil gebruik. Ek weet U het my verlede se dade uitgevee en dat ek nie meer daarvoor hoef te betaal nie. Help my om te glo dat U my wil gebruik, net hier waar ek is. Laat U Gees my wys hoe. Amen.