God se Woord in vandag se woorde

God getuig


Ons vertrou nie altyd almal se stories nie. Enige nuus wat ’n mens deesdae kry, moet jy eers gaan seker maak of dit die waarheid is.

Daar word die volgende storie vertel: Lank, lank gelede was daar ’n groot koninkryk met ’n regverdige koning. Hy was geliefd by al sy mense. Die koning het ’n besonderse boodskap vir sy mense oor die kroonprins gehad.

Hy stuur toe ’n boodskapper na al die dorpe en stede, en hy vertel hulle: “Die koning het nou by sy aftrede gekom en hy het besluit om sy seun die troonopvolger te maak. Hy is net so ’n regverdige man soos die koning en sal die land net so goed soos die koning bestuur.”

Sommige mense het hom geglo, maar sommige was soos gewoonlik skepties oor die aankondiging. Hulle het nie die boodskapper van ’n kant af geken nie. Hoe moes hulle hom met die waarheid vertrou?

Die koning het hiervan te hore gekom, en hy het besluit om self by die mense uit te kom. Hy het sy koets laat inspan en dorp vir dorp deurgery en vir die leiers self van sy planne vertel.

Die mense kon nie meer twyfel nie. Hulle wéét mos dat die koning net die waarheid praat. Sy woorde was sterker as enige iets wat hulle gehoor het, want hy is die hoogste gesag in die land. Maar meer nog, hy was persoonlik, in die vlees, daar.

Baie mense is onseker oor Jesus se koms na die aarde. Hulle twyfel oor Sy status. Sommige dink Hy was maar net ’n gewone mense, ’n tipe menslike profeet.

Maar Jesus is meer as dit. Jesus ís die Seun van God. En as jy nie mense wil glo nie, luister dan na wat God sê. God getuig deur Sy Gees, deur die doop, deur die kruisgebeure dat Jesus werklik ons Verlosser is.

Wanneer God getuig, dra dit vir seker meer gewig. Mense kan mislei word, of onbewustelik iets glo en vertel wat nie waar is nie – maar God kan nooit. Mense kan selfsugtige of onedele motiewe hê om doelbewus te mislei – maar God kan nooit.

Mense se waarnemings is dikwels beperk, gebaseer op gerugte of inligting wat nie betroubaar is nie. Maar God se kennis is altyd volkome. Mense probeer soms aandag trek met wonderlike stories wat nie waar is nie, maar God het geen behoefte daaraan nie. Mense het al mislei, maar God het nooit.

Hoewel daar baie gevalle is waar ons mense se getuienis met ’n mate van onsekerheid moet benader, kan ons altyd seker wees dat wat God sê, nooit vals is nie.

9Gewoonlik aanvaar ons dit wat mense getuig sonder veel probleme. As God egter iets getuig, lê dit op ’n heel ander vlak; dit is eenvoudig baie belangriker. Onthou, dit is die getuienis van God. En weet jy waaroor hierdie getuienis handel? Ja, oor sy Seun.

Daar is baie onsekerhede in die wêreld. Maar een ding wat egter soos ’n paal bo water uitstaan, is dat Jesus werklik die Verlosser is. Hoekom? Omdat God dit self getuig.

Teks
1 Johannes 5:7-21

Om oor na te dink
Glo jy in God se waarheid?
Wat maak dit aan jou dat jy anders lewe?

Gebed
Vader God, dankie dat U Jesus as Verlosser kom waarmerk. Ek glo dit met my hele hart. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek