God se Woord in vandag se woorde

God is getrou en vergewe elke keer


Sommige verse in die Bybel onthou ek woord vir woord. Seker omdat ek dit so nodig het en omdat dit gedurig op my van toepassing is. Ek vermoed die vers wat ek al die meeste in my lewe gebruik het, is die ene:  

9Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. (1983-vertaling) 

Die grootste geskenk wat ’n mens kan ontvang — ’n geskenk wat jou lewe red. Hierdie herlei jou van die pad wat in die dood eindig na die pad waar die lewe vir altyd en altyd gaan aanhou.  

Hierdie geskenk is moontlik gemaak deur Jesus Christus. Jy sien, ons kan niks doen om die vlek wat die sonde op ons gemaak het, te laat verdwyn nie. Ons kan nie ’n goeie daad doen om ons sonde te laat verdwyn nie. 

Ons kan nie eers ’n duisend goeie dade doen om een sonde se impak te minimaliseer nie. Sommige ouens bank ’n hopie goeie dade vir as hulle dalk êrens oor ’n grens gaan foeter. Daai kite sal ook nie in die lug kom nie.  

Dis net Jesus se bloed, waar Hy as laaste offerlam geslag is, wat dit regkry om ontslae te raak vir die hoop straf wat ons hier op aarde bymekaarmaak. Sy bloed wat gevloei het, was die betaling vir ons straf. 

Dit is juis omdat Jesus Sy lewe opgegee en gesterf het, dat God elke keer ons sondes afskryf. God sal hierdie ooreenkoms tussen Hom en die mens met elke sonde, maak nie saak hoe groot nie, eerbiedig, omdat dit Jesus was wat vir ons ingestaan het.  

Natuurlik is ons mense die ander party in hierdie ooreenkoms en ons het ook iets om te doen. Ons moet ons sondes bely. Orals in die Bybel gaan vergifnis vooraf deur die mens wat sy bydrae tot die afdraai van die regte pad erken en bely. 

Bely bring ’n stuk emosie na die tafel. Dis nie maar net ’n lysie wat ons neergeskryf het oor ons misstappe wat ons gaan aframmel en dink nou is dit klaar en in God se hande om die vergifnis in werking te stel nie. 

Ons moet ware berou hê. Die Boodskap-vertaling omskryf dit mooi deur te sê: 9As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer dieselfde foute wil maak nie … 

Berou het trane in die oog, al is dit nie werklike trane nie, maar trane in ons hart as ons sien waar ons vir God teleurgestel het. Maar dis meer as net trane. Dis ook ’n wil om dit nie weer te doen nie.  

Eintlik kan ons nie opdaag voor God se troon as ons nie reeds planne in plek het om seker te maak dat ons nie weer in daardie gat gaan trap nie. As ek prentjies van mense op die skerm gekyk het wat nie genoeg klere aangehad het nie en ek voel sleg en bely dit voor God, moet ek reeds meganismes in plek hê om te keer dat ek dit weer gaan doen. 

Dankie tog, God bly getrou. Laat ek dan nou ’n lewe gaan leef wat vry is van die bagasie van sonde en seker maak dat ek planne in plek het om nie weer in die gat te trap nie.  

Teks
1 Johannes 1:5-10 

Om oor na te dink
Glo jy dat God al jou sonde sal vergewe?
Het jy werklik berou daaroor?
Het jy planne in plek om dit nie weer te doen nie? 

Gebed
Vader God, hoe groot is U nie om uit genade elke keer my sondes te vergewe nie! Help my met planne om nie weer in die hek te duik nie. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek