God is ons Vader en Jesus ons broer
Baie mense het nie vir Jesus aanvaar as die Verlosser nie. Tot vandag toe is daar nog Jode, veral die Ortodokse Jode wat nie vir Jesus erken as die Seun van God wat aarde toe gekom het om vir die mensdom se sondes te kom sterf nie.
Hulle wag nog vir die koms van die Een wat verlossing sal bring, soos in die Ou-Testamentiese geskrifte voorspel is. Dis so jammer dat die ouens die bus gemis het.
Dit is so belangrik dat ons die waarhede van die Bybel gereeld weer besoek om seker te maak dat ons nie die bus mis nie. Soms is die waarhede so eenvoudig, maar omdat ons dit nie gereeld afstof nie, glo ons verkeerd.
Jesus is die Seun van God. God het vir Jesus na die aarde gestuur om te kom sterf in ons plek en so in ons plek die straf gedra vir die sonde wat ons doen en nog gaan doen.
Dalk het die Jode wat in die tyd van Jesus geleef het, iets heeltemal anders verwag. Dalk het hulle gedink Jesus gaan die aardse koning omvêr gooi en dan sy plek inneem. Daarom dat hulle Jesus se koms gemis het en Hom nie erken het as die langverwagte Verlosser nie.
Ons kan nie in Jesus glo, as ons nie vir God as die Vader erken nie. Net so kan ons nie in God glo as ons nie in Jesus as die Verlosser glo nie. Hulle is onlosmaakbaar deel van mekaar.
22Wie dink julle gee geboorte aan leuens? Dit is natuurlik enigiemand wat weier om toe te gee dat Jesus, as mens, werklik die Messias is. So ’n persoon verwerp sowel die Vader as die Seun. Hy is die antichris! 23Immers, iemand wat sy rug vir die Seun draai, kan tog nie aan die kant van die Vader wees nie. Iemand is wel aan die kant van die Vader as hy voluit agter die Seun aangaan.
Wanneer ons aan Jesus dink, dink ons meestal aan Hom as mens wat op die aarde geleef het en wonderwerke gedoen het. Ons het deur Hom geleer wie God is. Ons sien Hom as ons Verlosser wat aan die kruis gehang het, wat die dood oorwin het en opgevaar het na die hemel.
Dis is reg so, maar ons moet nooit vir God uit die prentjie verloor nie. Dis God die Vader wat Jesus na die aarde toe gestuur het. Hy bly heeltyd Jesus se Vader en gee juis die gesag as Redder van die wêreld aan Jesus.
Wanneer ons hierdie verhouding tussen God en Jesus verstaan, besef ons hoe gelukkig ons is om deel te wees van Sy familie. Ons is deel van ’n Goddelike familie wat vir ons elkeen soveel omgee, dat die familie bereid is om selfs hul lewe op te offer, sodat ons eendag vir ewig kan lewe.
Dan wonder ek of ons lewe dit wys? Weet ander mense wat saam met ons skouers skuur dat ons glo in die Almagtige Vader wat hemel en aarde gemaak het? Wys ons manier van lewe dat ons verlos is uit die kloue van die dood?
Dalk het dit tyd geword dat ons lewe die storie van God en Jesus vertel. Dalk moet ons manier van lewe die mense om ons jaloers maak en lus maak om ook deel te word van die familie van God.
Laat ons ons rol in die wêreld speel as kind van die Vader. Laat almal deur ons manier van lewe sien dat Jesus ons broer is en dat hulle Gees lewendig in ons lewe.
Teks
1 Johannes 2:18-23
Om oor na te dink
Sien mense dat God jou Vader is?
Weet mense van jou broer, Jesus?
Ervaar ander ook dat jy onder die leiding van hul Gees lewe?
Gebed
Vader, ek glo dat U die Almagtige Skepper is. Ek glo dat Jesus U Seun is wat aarde toe gekom het om vir my te verlos. Ek glo U Gees is in my. Laat die wêreld om my dit ook weet deur die manier waarop ek lewe. Amen.