God lei ons gedagtes na die liefde
Ek sukkel om my gedagtes op een plek te hou, veral as ek bid. Daarom vat ek soms ’n Psalm en lees dit rustig deur. Dan vat ek ’n pen en papier en skryf alles neer wat ek uit die Psalm hoor. Gou is daar sommer ’n paar bladsye vol geskryf.
Dit help my om te fokus. Dit help my ook om ’n beter prentjie en begrip van God te kry. Dit help my om woorde te kry om vir God dankie te sê. Probeer dit.
Só lees ek Psalm 36 en kry die volgende daaruit:
- God se liefde vir ons vloei soos riviere – dis so baie niemand kan dit meet nie.
- God is so goed vir ons – dit kan nie deur woorde vasgepen word nie.
- God is regverdig.
- God hou alles en almal styf in Sy hand vas – Hy beskerm dié wat by Hom skuil.
- God gee meer as wat jy nodig het.
- God is goed vir ons.
- God is die lewe.
- God is die lig vir ons pad.
- God beskerm.
- God help.
- God sorg.
- God voorsien.
- God gee.
Ek sit lank so in verwondering oor my hemelse Vader. Ek staan verstom oor hoe so ’n grote God afbuig na my wat juis nie altyd Sy droom droom nie. Ek verbeel my hoe ek in God se hand klim en wegkruip vir die monsters van die lewe wat my wil insluk. Ek sien hoe ek soos ’n klein babatjie opkrul en rustig slaap – asof niks en niemand my iets kan aandoen nie.
Aan die onderkant skryf ek groot: Dankie, God!
Toe ek wegstap, is ek anders. Ek is anders omdat ek op ’n nuwe manier aan my God dink. Ek is anders omdat ek opnuut besef hoe lief Hy my het. Strome liefde wat soos riviere in die reëntyd nooit ophou loop nie.
My hart loop oor van dankbaarheid. Ek besef dat ek hier is slegs deur die genade van God wat my paaie vir my help uitkap. Dan kan ek mos nie anders as om die lewe in te gaan en te soek waar ek kan terugploeg en ’n verskil in ander se lewens maak nie!
Wanneer God ons aanraak deur Sy Woord, kry ons weer hoop en moed en word die wens van Paulus ook in ons lewe waar: 5Mag die Here julle gedagtes aanraak sodat julle heeltyd sal fokus op God se groot liefde. En mag julle ook verstaan wat Christus alles vir ons opgeoffer het sodat julle ook enduit agter Hom sal aanstap.
Dan kan die storms van die lewe maar slaan. Dan kan die ongelowiges ons maar uitlag of die lewe vir ons moeilik maak. Dan kan die bose sy bes probeer om ons geloof stukkend te druk. Ons sal tot aan die einde agter Jesus aanloop, omdat Hy self die een is wat ons sterk maak.
Teks
Om oor na te dink
Is God in jou gedagtes?
Word jy deur Sy Woord verander?
Waar lê die fout?
Gebed
Vader, U liefde vir my en U getrouheid en U voorsiening loop soos ’n sterk stroom van verkwikking deur my lewe. U Woord herinner my aan U liefde vir my en dit gee my krag en moed om die wedloop met volharding te hardloop. Amen.