God praat nog
Voor ons met Hebreërs wegspring, net eers ’n klein bietjie agtergrond. Ons weet nie presies wie die skrywer is nie en nog minder waar die mense aan wie die brief geskryf is, woon.
Tog weet ons dat die mense ’n tweede geslag Christene is en ‘n bietjie sukkel om vas te hou aan hul geloof. Baie van hulle word vir hul geloof vervolg. Daarom die brief om die jong gelowiges aan te moedig om te bly glo, al kry hulle swaar.
In die eerste vers vertel die skrywer vir ons hoe God in die Ou-Testamentiese tyd gepraat het. Hy het deur die patriarge soos Moses, Dawid, Jesaja en ander profete gepraat. En dit op verskillende maniere: deur engele, drome, visioene en soms sommer deur ’n bos.
Die feit bly staan: God het gepraat. Maar God praat vandag nog. Hoor Chris se storie:
So met die ouderdom saam, kom mos vergeetagtigheid. Bankrekeningnommers en PIN-nommers en polisse bly vergete. Ek maak toe vir my so ‘n klein, swart boekie met al die nommers en besonderhede in. En daar raak dit weg! Dit was altyd in die boonste laai van my lessenaar gewees, maar nou is dit net weg!
Ek dop die huis op sy kop om. My kantoor, buite op die erf word deursoek, al wat ‘n kluis is word deurmekaargekrap, maar swart boekie is net weg. So tussen neus en ore verdwyn. Saam met my briewemes wat ek nog by my skoonpa gekry het.
Almal soek. Moeder, ek, die kinders, sowel as die kleinkinders, maar die goed is net nie te vinde nie. Al wat nie saam soek nie, is my twee hondekindertjies wat ons aankyk asof ons nou heel die kluts kwytgeraak het!
Twee maande later gaan slaap ek die Saterdagaand (die 21ste Julie) en daar gebeur die nagding toe met my! In ‘n droom praat die Vader met my en wys vir my presies waar die goed lê!
By dit, as ‘n bonus en net omdat Hy goed is vir my, wys Hy ook waar ek rekenaardata kan kry vir ‘n werkstuk waarmee ek besig is en hande in die hare (wat ek nie meer het nie) sit, omdat ek nie genoeg data het nie!
Ek staan toe vroeg Sondagoggend op en kry die boekie en briewemes presies waar Hy my gewys het, en nodeloos om te sê, op my rekenaar al die nodige data.
Nou kyk, ek is ‘n groot man van 1,87m en 123kg, maar ek het net daar in my kantoor gaan sit en huil en dankie sê. Dankie omdat Hy my God en Pa is. Dankie vir alles wat Hy vir my doen en gee. Dankie vir my gesondheid, maar die grootste dankie was dat Hy met MY gepraat het en MY so spesiaal laat voel het! Dit is ‘n asemrowende gevoel!
Ons God lewe, Hy is groot en goed! Amen.
God praat vandag nog. Dalk moet ons net gaan stilword en ons ore na Sy kant toe draai.
Teks
Hebreërs 1:1-4
Om oor na te dink
Praat God met jou?
Hoor jy Hom?
Is jy stil genoeg?
Gebed
Vader, ek weet ek is te veel aan die gang en maak te min stiltetyd vir U. Ek weet U praat nog vandag. Dalk moet ek aan my kant net die gehoorbuis skoonmaak? Amen.