God se mededingende voordeel
Ek onthou een woord van die tyd toe ek in die besigheidswêreld was, baie goed. Die woord het my die heeltyd laat dink. Op ’n manier het die woord my getrek na hoër hoogtes om seker te maak dat ons in die tawwe mark ’n kort koppie voor die res was. Die woord is competitive advantage. Ons kan dit seker direk vertaal met mededingende voordeel.
Kom ek verduidelik deur ’n eenvoudige voorbeeld wat dit beteken. Ons kinders en die buurman se kinders verkoop albei suurlemoenkoeldrank op die sypaadjie. Die vraag wat elke groep moet vra, is hoekom die kliënt nou juis hulle koeldrank gaan koop. Dalk sê die een groep ons gaan ons prys laer maak as die opposisie. Die ander groep gaan weer sê ons gaan sorg dat ons produk die beste smaak.
Die eerste groep se kompeterende voordeel is prys en sal al die kliënte trek vir wie prys baie belangrik is. Die tweede groep se kompeterende voordeel is weer die smaak of kwaliteit en sal kliënte trek vir wie hierdie eienskappe belangrik is. Om dit nog beter te verstaan, kan ons die twee groepe vergelyk met supermarkte. Ons kan eintlik die groepe name gee. Die eerste groep is soos Shoprite en die tweede groep soos Woolworths.
Elke groep het sy eie eienskap wat uitstaan.
As ek vir ander moet vra wat God se mededingende voordeel is, watter eienskap van God trek jou die meeste aan, sal ek baie verskillende antwoorde kry, waarvan liefde en genade seker die prominentste sal wees. Vir my is genade seker die grootste.
Ek ken myself. Ek weet hoeveel ek al drooggemaak het. Ek weet dat God my eintlik al lankal moes uitspoeg, want ek is nie eintlik warm nie, ook nie eintlik koud nie. Ek weet ek kom nie naby my potensiaal uit nie en is baie keer te selfsugtig om by my roeping uit te kom.
Tog hou God my vas. As ek met my hoed in my hand, kop onderstebo voor Hom laag buig, kan God nie anders as om my nog ’n kans te gee nie. God is ’n God van kanse. God deel vergifnis uit. Hy gee dit uit genade aan ons klomp sondaars.
Dit is Sy voordeel bo enige ander en hoekom ons sondaars nie anders kan nie, as om elke keer in Sy arms in te hardloop. God het nie moed opgegee nie, maar skuif elke dag die vangnet onder ons in. Hy hoop dat ons vandag weer sal terugkeer na Hom. Daarom sal Hy heeltyd agter ons aanstap, want dalk is vandag juis die dag wat ons besef hoe groot Sy belofte aan ons is.
Hy smag daarna dat ons eendag saam met Hom in die hemel sal rus. Dit is die belofte van Sy kant af. Dit is nie ’n belofte wat Hy een keer lank gelede aan Sy volk gemaak het nie. Nee, dis ’n belofte wat Hy elke dag, vandag, weer en weer aan elkeen van ons kom bring.
Dis God se voordeel. Hy hernu Sy aanbod elke dag, vandag ook, vir jou en my. Kom ons gryp dit aan. Kom ons maak dit deel van ons lewe. Kom ons deel in God se voordeel en sê “ja” vir Sy roepstem.
7Maar God het die mense nog ’n kans gegee. Daarom het Hy nog ’n dag, wat Hy “vandag” noem, gegee. Hy het lank daarna weer deur Dawid daaroor gepraat: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer nie.”
Teks
Hebreërs 4:1-6
Om oor na te dink
Wat is God se kompeterende voordeel vir jou?
Is dit deel van jou lewe?
En die mense om jou?
Gebed
Onse Vader, hoe groot is U tog nie! Ek wil U al die lof besing, want U is so genadig en drup van die liefde. Dankie dat ek aan die ontvangkant kan staan. Dankie dat U elke dag weer en weer my toegooi met ’n hoop beloftes. Saam met U sal ek rus. In Jesus se Naam, amen.