God se Woord in vandag se woorde

God sit op my troon, of hoe?


Jy kan baie keer sien wat in iemand se hart aangaan deur net te luister wat uit hulle mond kom. Party mense verras jou met iets mooi en opreg. Ander keer dink jy net: “Nee wat, ek bly liewer ver weg. Ek wil nie eers met ’n tang aan hulle vat nie!” 

Wat mense doen, spreek soms harder as hulle woorde. Maar dit werk eintlik dieselfde – dade wys wat regtig in jou hart aan die gang is. En ja, partykeer is dit mooi om te sien, maar ander kere wil jy nie eens die moeite doen om ’n tang te gaan soek nie. 

As iemand se woorde en dade nie ooreenstem nie, raak almal om hulle deurmekaar. Mooipraat help niks as jou dade dit nie wys nie – mense sien dit gou raak, en dan draai hulle maar stilweg om en los jou net daar. 

Dis nie moeilik om te verstaan nie. Dit wat binne jou hart aangaan, die mens wie jy is en wie jy nie is nie, selfs jou denke skree kliphard deur jou dade net die waarheid: Dis wie ek is! 

So, wanneer ons sê ons is kinders van God, moet ons dade dieselfde vertel. Wanneer ons dan niks sê nie en net doen, sal mense presies sien en weet in wie ons glo en wie se kinders ons is. Ons is dan duidelik sigbaar deel van God se familie.  

24Wie God se wil so doen, is werklik deel van die intieme familiekring van God. Sy belange raak totaal met die belange van God vervleg. God is vir hom die allerbelangrikste en hy is net so belangrik vir God. Dat God ons werklik so deel van sy intieme familiekring gemaak het, kan ons daarin sien dat Hy aan ons die Heilige Gees gegee het. 

As ons die opdrag van God uitleef, kan mense ons geloof raaksien. As ons in Jesus glo, word ons deel van die Goddelike familie en deel van die pakkie is om ons naaste lief te hê, met alles in ons.  

Dis hier waar baie van ons in die hek duik, want ons sukkel met ons naaste naby aan ons. Jy sien, ons naaste is nie net die buurman of die mense saam met wie of vir wie ons werk nie. Naaste is nie net die mense met wie ons skouers skuur of die vreemdeling nie, maar die familie hier rondom ons.  

En dis hier waar ons so maklik ons verdedigingsmeganismes laat sak en oor die grense bars. Dan sê en doen ons dinge waaroor ons later spyt is. Dis juis hier waar ons gou beheer oor ons tong verloor. Hier bars ons maklik oor die grense van ordentlikheid met katastrofiese gevolge.  

Dit is dan juis hierdie optrede van ons wat ander laat wonder wat regtig in ons hart aangaan. Hierdie dade van ons laat dit lyk asof ons nie regtig deel is van God se familie nie, en dit voel asof ons weer op straat is. Alleen en verlore.  

Ek dink dit gebeur wanneer ons vir God van die troon van ons lewe afhaal en eerder self beheer wil neem oor ons planne en begeertes. Maar as ons vir God eerste stel en Hom toelaat om weer die regte plek in ons lewe te hê, sal ander mense dit raaksien in die manier waarop ons optree, hoe ons praat en ook hoe ons ander behandel. 

Gelukkig hoef ons dit nie alleen te doen nie. Die Heilige Gees is by ons om te help. Ons moet Hom net meer toelaat om Sy ding in ons lewe te doen. Wanneer ons dan saam met die Heilige Gees die lewe aanpak, sal ons nie ons geestelike familie in die steek laat nie – inteendeel, mense sal duidelik kan sien dat Jesus die Koning van ons lewe is.  

Teks
1 Johannes 3:19-24 

Om oor na te dink
Laat ek genoeg ruimte vir die Heilige Gees in my lewe?
Kan ander sien dat Jesus die Koning van my lewe is?
Wys my lewe dat ek saam met God stap? 

Gebed
Vader, help my om altyd só te lewe dat ander vir U op my troon kan sien sit. Help my om ook by die mense naaste aan my U lig uit te straal. Te alle tye. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek