God wil jou gebruik
Kom ons stap net gou vir ‘n oomblik terug na die tyd waarin die skrywer hier op aarde was. Jesus was kort gelede op die aarde. Hy het die appelkar kom omgooi. Baie mense het tot bekering gekom. Sommige het gesukkel. Veral die Jode.
Ek weet nie lekker hoe hulle verwag het die Messias moes lyk nie, maar baie het Hom gemis. Tot vandag toe kan die ortodokse Jode nie hulle kop om Jesus se koms na die aarde kry nie. Die ouens het vasgesteek by Moses en die wet. Die Jode se hele geloofsisteem het om Moses gedraai en hulle het die wet van voor tot agter en terug uit hulle kop geken.
Daarom dat die skrywer van Hebreërs vir die leser probeer wys hoe Jesus met Moses vergelyk. Net soos Jesus deur God geroep is, het Moses ook ’n hemelse roeping gehad. Hulle roepings is amper dieselfde. Moses moes God se volk uit slawerny uittrek. Jesus moes weer die volk onder die juk van sondestraf uittrek. Gelukkig het Hy dit ook vir ons nie-Jode gedoen.
Op ’n manier is Moses, en die uitvoering van sy roeping om die mense uit slawerny te verlos, ’n heenwysing na Jesus wat sou kom. Maar meer nog, dit wys nie net God se betrokkenheid by Sy volk nie, maar dat God mense gebruik om Sy wil op aarde te laat geskied.
2God het Jesus aangestel en Jesus het alles gedoen soos God dit van Hom verwag het, net soos Moses destyds getrou gedoen het wat God wou hê.
Moses was ’n groot gees en vir die Jode en vir ons, iemand om na op te kyk. Daar was baie pragtige stories en wonderwerke toe hy die volk uit Egipteland uitgelei het. Die hoogtepunt was seker toe hy die wette wat deur God op die twee kliptafels geskryf is, van die berg afgedra het. Werklik ’n merkwaardige man.
Aldus die rede hoekom die skrywer vir Moses en Jesus teenoor mekaar sit.
As ons egter nog ’n bietjie verder teruggaan in Moses se geskiedenis, onthou ons dat hy eendag, toe hy nog in Farao se paleis gebly het, deur die landerye gestap het. Een van die Egiptenare was bietjie rof met ’n Israeliet. Moses vererg hom, vat die ou vas, en in die proses sterf die Egiptenaar. Moses moes vir sy lewe vlug.
Moses se humeur het hom soms lelik in die steek gelaat. Soos die keer wat hy die rots geslaan het – dit het hom die intog in die beloofde land gekos. En tog gebruik God hom om Sy volk uit slawerny te trek.
En vir ons almal is hier ’n groot les. Baie keer voel ons te sondig en dink ons God kan ons nie gebruik nie. Ons het al soveel verkeerde dinge in ons lewe gedoen, hoe kan God ons dan gebruik? Tog is dit presies wat God doen. Hy gebruik krom stokke soos ons om reguit houe te slaan.
Soos vir Malcolm:
I was one a bad bowl. In my teen years I was a gangster, a drug dealer and a drug addict. Today I sit in an office – so great is our God. I feel so blessed and now I tell people of the greatness of God.
Soos God vir Moses, Jesus en Malcolm gebruik, so wil God ook vir jou gebruik. Glo dit. Maak dit jou eie en gaan doen dit. Toe!
Teks
Hebreërs 3:1-6
Om oor na te dink
Waar wil God jou gebruik?
Hoe wil God jou gebruik?
Waarheen moet jy gaan?
Gebed
Onse Vader, ek voel soms soos ’n hoender en nie opgewasse vir die werk waarvoor U my geroep het nie. Tog weet ek dat U my wil gebruik. Gee my krag en wysheid om dit te doen. In Jesus se Naam, amen.