Goedheid en vrede vir jou!
Ek probeer intensioneel meer bid. Ek probeer veral meer bid vir ander mense. Ek dink dit sal beter gaan as ons almal meer vir mekaar bid.
Ek word vroeg wakker – lank voor my wekker. Dit is ekstra tyd waarvoor ek nie beplan het nie en toe bid ek. Ek bid vir die kinders by wie ek ’n tyd gelede die saalopening waargeneem het. Ek het die kinders uitgenooi om met my te kom praat as daar iets is wat hulle pla. Van hulle het kom praat, ander het briefies gestuur.
Die ergste vir my was die klein dogtertjie met groot oë wat te skaam was om te kom en toe ’n prefek gevra het om haar te bring. Sy wou hê ek moes vir haar pa en ma bid, want hulle baklei baie.
Ek glo in gebed. Ek glo dat God na ons luister en iets sal doen as dit binne Sy wil is. Ek glo dat, al ken ek nie haar pa of ma se name nie, of selfs haar naam nie, God my gebed hoor en dat Hy iets daaraan sal doen. Ek glo dit met my hele hart!
Net so wil ek graag vir jou bid. Ek wil dieselfde gebed wat Paulus vir die mense van Tessalonika gebid het, bid: 1Julle ken God as Vader en julle glo in die Here Jesus Christus. Mag julle elke dag God se goedheid beleef. En mag julle ook sy vrede in julle lewe ervaar. Ek bid en vertrou regtig dat jy ’n stuk van God sal ervaar, dat jy ’n stukkie van ons goeie God en Vader sal ervaar. Ek bid regtig dat, te midde van al die probleme en woeste winde wat waai, jy ook ’n stuk vrede van God sal ervaar en saam met jou kan dra, al gaan dit nie altyd so goed nie.
Weet verseker dat God saam met jou op pad is. Weet dat God saam met jou die lewe instap. Weet ook dat jy nie altyd voorkeurbehandeling gaan ontvang nie. Inteendeel, die kans is dat dit ’n bietjie rowwer sal gaan, juis omdat jy God se wil elke oomblik van die dag wil doen. Hou egter vas aan die wete dat God nooit jou hand sal los nie.
Gelukkig kan ons aan God vashou. Gelukkig weet ons dat die almagtige God altyd daar is vir ons en dat ons nie alleen die stryd hoef te stry nie. Saam-saam kan ons deur die moeilike tye beur.
Ek is groot, eintlik té groot. My vrou is omtrent die helfte van my grootte, maar sonder haar kan ek nie. Ek onthou nog hoe ek, toe die storms in die besigheid so swaar gedruk het, snags agter haar gelê en skuil het. Nee, sy kon nie die storms namens my trotseer nie. Ek moes dit self doen, maar net die wete dat sy daar was en ek agter haar kon skuil, het dit vir my moontlik gemaak om die volgende dag die bul by die horings te pak.
Net so het ons vir God aan ons kant. Ons is nie alleen daar buite nie. God is daar. Daarom kan ons ook in die tye wanneer dit nie so rooskleurig gaan nie, vrede ervaar, want ons weet God is daar. Op ’n manier doen God die onmoontlike en waar ander mense natgesweet is van planne maak en probeer om kop bo water te hou, kan ons rustig wees, want ons is nie alleen nie. God is in ons span en Hy sal vrede bring en op ’n manier sal ons Sy goedheid ervaar.
Daarom bid ek weer vir jou, wat jou bes probeer om God daar buite in die wêreld te aanbid: 1Julle ken God as Vader en julle glo in die Here Jesus Christus. Mag julle elke dag God se goedheid beleef. En mag julle ook sy vrede in julle lewe ervaar.
Om oor na te dink
Glo jy in gebed?
Kan jou gebed ’n verskil maak?
Vir wie moet jy nou die gebed bid?
Gebed
Here, dankie dat ek kan bly glo dat ek nooit alleen deur die wêreld sal stap nie. Dankie dat U my hand vashou. Stort asb. al U vrede en genade oor my uit. Laat ek U goedheid ervaar. Ek het dit so nodig. Amen.