Goedjies vat en loop nie
Klik hier om na Sondag se preek van Gerjo Ben: Waarvan die hart vol is… op YouTube te kyk.
’n Mens se gemoed kan darem gou tussen die vloer en politoer inval as die dinge wat vir ons belangrik is, net nie lekker wil loop nie. Wanneer ons land en sy dinge nie goed bestuur word nie, raak ons gou negatief.
Wanneer ons geldsake net nie glad wil loop nie. Wanneer ons verhoudings elke nou en dan skipbreuk ly en jy op ’n alleenstrand uitspoel. Wanneer ons drome en kastele in skerwe geskiet word, word ons vreugde gesteel.
Ons word genooi vir tee en in die gesprek vertel die persoon van iemand laer af in die straat wat een oggend ’n rewolwer geneem het en hom in die veld gaan skiet het. Ons gaan kyk waar dit gebeur het. Ek voel nie lekker nie.
Daar was geen teken vooraf nie. Hy en sy vrou was so gelukkig. Hulle het alles gehad. Hulle pad van lewe saam was geteer. Daar was oorgenoeg finansies. Maar êrens het iets sy vreugde gesteel en hy het net nie meer kans gesien nie.
Wanneer die dinge om my nie lekker wil loop nie. Wanneer iets hom kom inwurm tussen my en my drome. Wanneer my toekoms maar aan die donker kant lyk, vat my vreugde sy goed en loop by die agterdeur uit.
Dan wonder ek of ware geluk en ware vrede en ware vreugde regtig moontlik is in vandag se lewe? Moet ons nie maar gewoond raak aan al die negatiewe en vir onsself sê dat ware diep geluk, vrede en vreugde nie werklik heeltemal in vandag se lewe kan manifesteer nie?
Nee, dit is wel moontlik. Ware geluk, vrede en vreugde kan wel hier op die aarde ’n werklikheid wees. Ek vermoed ons maak soos die liedjie sê: Looking for love in all the wrong places en ons soek dalk geluk, vrede en vreugde op verkeerde plekke.
Ware geluk, vrede en vreugde kan nie deur wêreldse dinge gebore word nie. Die Bybel sê mos dat dit alles op die ou end deur motte opgevreet sal word of sal oproes. Dis nie standhoudend nie.
Diegene met bitter baie geld en wat enige iets kan koop wat hulle hart begeer, soek erg na ’n plekkie van behoort. Dié wat op die rooi tapyte dans, wil soms net ongemerk gaan inkopies doen in die dorp.
Dit is net by God waar ware geluk, vrede en vreugde te kry is. Wanneer ons besef wat Jesus vir ons gedoen het aan die kruis, dat Sy bloed vir ons die pad na die ewige lewe oopgestoot het, word ’n mens oorval met ware geluk, vrede en vreugde.
5God hou julle juis nou styf vas sodat niks met julle gebeur wat julle geestelik kan seermaak nie. Hy is sterk genoeg om dit te kan doen. Vertrou daarom op Hom, want Hy gaan julle kom red. Alles is al reg daarvoor. Op die dag wanneer Jesus weer kom, sal God al die wonderlike dinge wat Hy vir julle reggemaak het, vir julle kom uitdeel. Daarvan kan julle seker wees en daarom kan julle inderdaad baie bly en opgewonde wees.
Sit dit in jou pyp en rook dit. Weet dat ons pad na die hemel geteer is. Dit kan en sal nie van ons weggevat word nie. Wanneer ’n mens dit regtig besef, wanneer jy die wete deel maak van jou wese, word ’n mens oorval en daag ware geluk, vrede en vreugde by jou deur op. Laat hulle in. Hulle sal nooit weer hulle goedjies vat en loop nie.
Teks
1 Petrus 1:3-6
Om oor na te dink
Hoe loop jou lewe?
Soek jy na ware vrede, vrede en geluk?
Soek jy dit by God?
Gebed
Vader, ek weet eintlik meeste van die dinge, maar so gou kom breek die wêreld my spoed. Help my om ware geluk, vrede en vreugde by U te soek, dit te vind en deel te maak van my lewe. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.