God se Woord in vandag se woorde

Gooi lig in die pad


Brandt (skuilnaam) leer vir my, wat ’n Kapenaar is, iets van lighuise. Hy skryf: 

Ek het iets geleer hier waar ek in Simonstad vakansie hou en dit is dat elke lighuis regoor die wêreld ‘n spesifieke sein het. Sekere lighuise se ligte neem langer as ander om ‘n siklus te voltooi.  

So wanneer jy op ‘n kaart kyk, wys die kaart presies vir jou naby watter lighuis jy is, want die kaart sê vir jou hoe lank die lig vat om in die rondte te draai.  

Dit wil sê, lighuise se doel is nie net om gevaar aan te dui nie, maar ook om vir die kaptein van die vaartuig te wys waar hy hom bevind op daardie stadium en dan kan hy ‘n besluit maak in die volgende rigting. 

Ons weet almal dat Jesus die lig is. Jesus skyn Sy lig in ons lewe sodat ons die donker kolle kan raaksien en seker maak dat die dade van die donker uit ons lewe gewurg word. 

Maar Jesus is ook soos ligtorings vir ons ’n rigtingaanwyser. As ons agter Jesus se lig aanstap, weet ons ons is in die regte rigting op pad. Ons sal ons dan nie in die donker paaie te pletter val nie.  

Soos ons Meester, moet ons ook vir ander die lig wees. Lig wees op hul dade van die donker. Baie mense weet nie eers dat hulle besig is met die dade van die donker wat hulle dood gaan beteken nie. Daarom dat ons vir hulle die lig moet gee om dit wel raak te sien. 

Maar ons moet ook vir hulle wys waar die regte rigting is. Ons moet met ons manier van lewe en die rigting waarheen ons op pad is, ander nader trek na die ware Lig. 

Die vraag is of ons lewe en dade soveel lig maak? 

10Hoe onderskei ’n mens nou iemand wat in die lig leef van iemand wat in die duisternis leef? Só: 11die persoon wat niks omgee vir sy medemens nie – al is sy woorde hoe godsdienstig en vroom – leef steeds in die duisternis. Hy is soos iemand wat in die donker voortstrompel. Hy het geen idee waarheen hy op pad is of waar hy gaan uitkom nie. Omdat dit so donker is, loop hy soos ’n blinde man rond. Daarteenoor leef die persoon wat sy broer of suster liefhet, voortdurend in die lig. Juis daarom struikel hy ook nie sommer nie. 

GP se ligstorie werp nog lig op ons onderwerp: 

Ek loop een aand in ’n donker saal in. Die groot ligte van die portaal skyn agter my. So loop ek teen stoele en tafels vas, want my skaduwee gooi ’n donker kol in die saal.  

Met die terugkom, nou met my gesig na die lig gedraai, sien ek elke stoel en struikelblok raak.  

Laat God se lig voor en oor ons skyn en laat ons nie ons eie pad verdonker deur Hom agter ons te laat loop nie. 

Loop in Jesus se lig. Wees jy die lig vir ander en wys die pad aan en moenie toelaat dat jou lewe ’n skaduwee oor jouself of ander se pad gooi nie. 

Teks
1 Johannes 2:3-9 

Om oor na te dink
Lewe jy in Jesus se lig?
Skyn jy lig in ander se donker lewe?
Wys jy die pad? 

Gebed
Jesus, ek wil net agter U lig aanstap. Ek wil vir ander die lig wees en die pad wys. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek