Hoe om jou tjommie te help
Wanneer Paulus ons aanmoedig om ons vriende wat van die pad is weer terug te help, maak hy ’n goeie voorstel: 16… Gebruik ook psalms en ander liedere om dit te doen. Sing uit julle hart uit, want met hierdie geestelike liedere sê julle ook vir God dankie.
En as Hy soos ons die Nuwe en Ou Testament in een boek saamgebind gehad het, sou hy heel waarskynlik soos volg geskryf het: Gebruik die Woord van God, Die Bybel om julle tjommies reg te help. Sing saam uit volle bors…
Ek dink aan my tjommies en sien hoe vat hulle die psalmboek en begin saamsing om die boodskap aan hulle vriende oor te dra. Ek bars eintlik uit van die lag, want ek weet sommige van hulle is heeltemal doof vir enige toon. Dit gaan ’n kakofonie van klanke afgee en die ware boodskap sal vir seker nie oorgedra word nie. (En net vir ’n bietjie humor, die Nederlanders beskryf kakofonie as sulks: Allemaal verschillende klanken die echt niet bij elkaar passen).
Maar hierdie is ’n baie ernstige boodskap. Dit sê in eenvoudige taal: Mense, julle moet met julle vriende praat. Julle moet hulle terugneem na die Woord van God en hulle help om raak te sien waar hulle nie binne die wil van God leef nie. Dan is dit nie jy wat met ’n opinie oor sy of haar gedrag kom nie, maar God se opinie. Ewe skielik het die reghelp outoriteit en gesag, want dis nie ek wat dit sê nie, maar ons hemelse Vader.
Ek steek dadelik vas, want ons raak so maklik veroordelend en dan begin ons vinger wys. Wanneer ’n mens met so ’n houding kom of as die een wat reggehelp moet word dit so ervaar, sit ons die pot mis en gaan ons nie regkry wat Paulus hier voorstel nie.
Eintlik moet ons vra hoe Jesus dit sou gedoen het? Jesus sou die ander persoon en sy gevoelens in die oog gehad het. En dan met liefde en omgee, sonder veroordeling, die persoon se hand geneem het en die pad saam gestap het.
Dis ons elkeen se verantwoordelikheid om mekaar te help om nie van die pad af te foeter nie. Ons moet mekaar in liefde terugneem na die Woord van God sodat ons onsself daarin kan spieël. Ons en hulle sal só kan sien waar iets nie reg is nie. Dan moet ons egter nie omdraai en wegloop nie, want dan het ons juis mekaar as vriende nodig op die pad na herstel. Dis dalk ’n bietjie moeiliker, want nou moet ons ’n stuk van onsself gee.
Maar nou pla daar nog ietsie. As ons die Woord van God gebruik om ons tjommies reg te help, veronderstel dit dat ons die Woord van God moet ken. Ons moet weet waar die waarhede staan. Ons moet dit self ken en toepas in ons eie lewe.
Ai, hoekom maak ons nie meer erns met die Woord van God nie? Dit bevat soveel waarhede en hulpmiddels, nie net vir onsself nie, maar ook vir die mense rondom ons.
Kom ons maak ’n besluit om meer tyd met God se Woord deur te bring. Kom ons laat toe dat die Woord ons verander en reghelp en terughelp op die regte pad, want dan is ons toegerus om ook ons vriende se hand te vat.
Teks
Kolossense 3:12-17
Om oor na te dink
Wie moet jy help?
Hoe moet jy help?
Hoe moet jy die Bybel betrek?
Gebed
Vader, dankie vir vriende. Dankie vir die voorreg om hulle te help. Tog voel ons dikwels so onbevoeg, omdat ons nie Die Bybel goed genoeg ken nie. Vandag besluit ons weer om ’n daaglikse afspraak met U en U Woord te maak. Amen.