God se Woord in vandag se woorde

Hoop laat die son weer opkom


Ek stuur op Instagram ’n prentjie uit van ’n bokser wat kop onderstebo sit. Sy kop hang laag tussen sy hande. Ek is moeg. Ek kan nie meer nie. Ek weet nie waarheen nou nie. Ek weet nie of daar iets is om in te glo nie.

Die opskrif is baie eenvoudig: Moenie dat swaarkry jou geloof steel nie. Net dit. Die foto slaan meer as 60 000 mure op Facebook. Ek staan verstom en wonder hoekom die een nou eintlik so ver getrek het. Stadig dring dit tot my deur. Swaarkry is so ’n groot realiteit in ons lewe vandag. So baie mense trek baie amps daar buite en ja, wanneer ’n mens so swaarkry dat jou oë traan, vlieg jou geloof saam met al jou vrae by die deur uit.

Wanneer die son nie skyn nie, is dit moeilik om te glo dat daar ’n son is.

Tog moet ons, wanneer dit swaar gaan, juis ons hoop sit op die nuwe lewe. 16… Hy gee aan ons ’n vaste hoop vir die nuwe lewe wat voorlê. Ons moet weer die prentjie kry van God se nuwe wêreld waarheen ons op pad is. Ons moet die prentjie van ’n moeitevrye, swaar en pynlose wêreld weer voor ons kan raaksien. Plaas jou hoop op dié prentjie, sodat dit jou deur die swaar kan sleep.

Kyk hoe mooi verwoord Jo Black hoop in sy lied: Bring die hoop weer terug:

Hoop, wat is hoop?
Dis die wens dat die son weer opkom
Hoop, wat is hoop?
Dis dat vrede by ons uitkom

Daar’s ‘n oorlog hier binne my
Dis vir jou wat teen jouself baklei
Ek sê vir jou, jy is goed genoeg
So, bring die hoop weer terug

Jy’s die lig in die donker gang
Jy’s die baken wat op die heuwel staan
Ek sien die mens wat jy nog kan wees
So, bring die hoop weer terug

Hoop, wat is hoop?
Dis as ons harte na mense terugdraai
Hoop, wat is hoop?
As jy struikel sal jy weer opstaan

Hoop, wees jy die hoop
Steek jou hande uit na mekaar
Hoop, dis ‘n stem wat sê:
As jy moeg is, sal ek jou dra

Bring die hoop weer terug

Ons moet weer hoop in ’n hopelose wêreld bring. Ons moet saamstaan en saam droom oor ‘n beter wêreld. Maar meer nog, ons moet saamstaan en die hoop weer terugbring deur hande te vat en vir die mense die prentjie van die nuwe wêreld skilder. Ons moet vol hoop ander se koppe oplig. Ons moet hulle lei om weer te glo en te hoop en te weet dit sal weer beter gaan.

En dis alles genade.

Teks

2 Tessalonisense 2:13-17

Om oor na te dink

Waar is jou seer en swaar?

Het jy nog hoop op ’n beter wêreld?

Waar moet jy hoop kry?

Gebed

Vader, dis nie maklik om hoop te kry as dit lyk soos dit lyk hier rondom en in ons nie. Soms lyk en voel dit asof die son nooit weer gaan skyn nie. Maar soos Jesus uit die dood opgestaan het, so sal ek ook opstaan uit my swaar, omdat U aan my die hoop gee op ’n ewige lewe sonder swaarkry. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek