Hulp met versoeking om die draai
Versoekings is deel van die pakkie.
Ons almal het ’n besigheidskaartjie en onder ons naam staan daar: Kind van God. Net jammer dat baie van ons skaam is en die kaartjie wegsteek vir die mense met wie ons skouers skuur, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.
Wat ons wel moet weet, is dat as jy so ’n besigheidskaartjie het en of jy dit vir die hele wêreld wys of wegsteek, versoekings is deel van jou dag. Op die snaaksste, onverwagse plekke daag hulle op.
Ons moet ons hierteen staal. Ons moet die versoekings verwag en voorbereid wees daarop. Sommige van hulle is taai om teen te staan. Sommige van hulle kan ons nie op ons eie oorwin nie. Gelukkig is daar darem hulp!
9Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ’n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie.
God sal ons help om die versoekings teen te staan. Wanneer ons werskaf aan ons verhouding met God, as ons genoeg tyd met Hom deurbring en die Gees toelaat om voor te stap, is die perk dat Hulle ons altyd sal help om die versoekings vir ’n ses te pos.
Cornie (skuilnaam) het dit al aan sy eie lyf ervaar:
Ek het vasgesit in pornografie, maar die Here het my vrygemaak.
Ek het begin om vir die mense te bid wat daai video’s maak, want hulle ken nie die verskil tussen reg en verkeerd nie.
Hoe dit ook al gebeur het, weet ek nie, maar ek is verlos. Dit was net ’n Goddelike wonder, alhoewel dit nie oornag gebeur het nie.
Ek het my eie psige ondersoek om te kyk wat stimuleer hierdie drange, en gevind dat dit moontlik is as gevolg van gevoelens van verwerping deur die omgewing rondom my.
Deur hierdie gevoelens aan te vat met beloftes uit die Skrif en geestelike oorlogvoering, het ek besef dis ‘n fyn strategie van satan …
Ek is geliefd. Ek is begenadig. Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. Al val ek duisend keer, God sal my een keer meer ophelp. En hoe meer kere ek opstaan, hoe sterker word ek. Dit gebeur met tyd en volharding.
En so het dit gebeur. Die tussenposes tussen struikeling het al hoe langer geword en uiteindelik was ek op die punt waar ek met beslistheid NEE kon sê vir die versoeking, opstaan vanaf my rekenaar en iets anders gaan doen om my aandag af te lei.
“Die Here het my vrygemaak,” sê Cornie. Hy het sy kant skoongemaak en planne gemaak om die versoeking teen te staan, maar sonder die krag van God sou dit maar gesukkel het. Sukkel jy met iets? Sukkel jy met ’n verslawing of ’n versoeking wat keer op keer sommer net instap? Dalk moet jy werk aan jou verhouding met God en bly glo dat God jou sal help om van die versoeking ontslae te raak.
Teks
2 Petrus 2:4-8
Om oor na te dink
Watter versoeking lê voor jou deur?
Hoe kan jy daarvan ontslae raak?
Hoe lyk jou verhouding met God?
Gebed
Vader, U weet waarmee ek sukkel. Gee my krag en wysheid en deursettingsvermoë om daarvan ontslae te raak. Amen.