God se Woord in vandag se woorde

Iemand om op staat te maak


God het vir ons elkeen gawes gegee om ’n verskil te maak in ander se lewe. Sommige in een of twee mense se lewens. Ander weer om ’n verskil in baie mense se lewens te maak.  

Petrus was ’n visserman en die kenners is onseker of hy kon skryf, maar as jong Joodjie moes hy heel waarskynlik die Torah uit sy kop leer. Maar maak nie saak nie, hy het iemand gehad wat hom gehelp het met sy skrywery. 12Silvanus het my gehelp om hierdie kort briefie aan julle te skryf. Hy is ’n mede-Christen op wie ’n mens kan staatmaak. 

En skryf was sy gawe. Ek vermoed dis myne ook. En weet jy hoeveel plesier gee dit my as ek iets geskryf het en dit beteken vir iemand anders iets. As ek met my talent ’n verskil kan maak in ander se lewens, spring ek heeltyd oor die maan.  

’n Vriend van my se pa het sy twee broers na graad 10 uit die skool gehaal om te kom help met die planthire. Toe my vriend klaar is met graad 10, beveel die hoof aan dat hy toegelaat moet word om graad 12 klaar te maak, want, sê die hoof: “Die enetjie het baie potensiaal.” 

Aan die einde van graad 11 kon sy pa dit nie meer hou nie en haal hom toe ook uit die skool. Kort daarna stap hy sy pad om sy papiere as mechanic te gaan haal.  

Dit was daar vanuit die workshop waar hy die regte finansiële vrae begin vra het, soveel so dat die ouditeure vir sy pa gesê het hy moet eerder in die kantoor gaan werk. Dit was nie lank nie, toe slaan hy die groot maatskappy se till.  

So skuur hy skouers met groot slimkopmanne in groot mynbesighede waar tot meer as 200 van hulle besigheid se mynvoertuie daagliks mynstof rondkarwy en deursoek word vir nog goud. 

Wanneer hy die nuwe jaarlikse verhogings op die tafel sit, wat die grootkoppe se oë nog groter laat rek, stel hy rustig voor hulle moet dan eerder weer ‘n tender uitsit. Die keer doen 28 manne aansoek om die kontrak oor te vat. 

En as die (myn-) stof gaan lê, is dit weereens hy en sy broer wat deur die slimkoppe na die raadsaal geroep word. En al is sy verhoging nou nog ’n paar persent meer as waarmee hulle begin het, loop sy lorries weer rustig tussen die mynhope. Ek vermoed dis omdat hy ‘n man is op wie mens kan staatmaak.  

Jy sien, dis sy gawe. Sy kwalifikasie is heel anders as die manne wat die somme maak. Hy weet waar die Here hom geplaas het en watter tools aan hom uitgedeel is en hy gebruik dit. Dan besef hy ook dat God hom aan die hoof geplaas het om ’n verskil te maak in ander se lewens. 

Sy personeel ervaar dit aan hul lywe. Wanneer die swaar hulle tref, weet hulle aan watter deur hulle kan gaan aanklop. Selfs mense buite sy organisasie ervaar sy goedheid terwyl hy in hulle lewens inploeg.  

Sylvanis het sy skryftalent gebruik om ’n verskil te maak in baie mense se lewens. My mechanic-tjommie met sy graad 11-kwalifikasie agter sy naam gebruik sy gawes om ’n verskil in baie mense se lewens te maak. Jy kan op hom staatmaak.  

En weet jy wat? So het God ook vir jou ’n klompie gawes gegee om ’n verskil te maak. Kan mense op jou staatmaak? 

Teks
1 Petrus 5:12-14 

Om oor na te dink
Hoe lyk jou gawes?
Gebruik jy dit?
Kan ander op jou staatmaak? 

Gebed
Vader, dankie vir my gawes. Heilige Gees, help my om dit elke dag te gebruik, sodat ander op my kan staatmaak. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.  

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek