God se Woord in vandag se woorde

Jesus bring verandering


Verandering is deel van ons lewe. Kyk nou maar die prentjie van jou as kind. Ons het nie skerms gehad nie. Ons het nie eers ’n TV gehad nie. Inteendeel, my pa het dit ’n satans-kassie genoem en gesê hy sal nooit een koop nie. Toe hy ’n beroep na ’n nuwe gemeente aanvaar, gee die vorige een vir hom ’n groot geskenk. ’n TV. Maar wag ek is al weer van die storie af.

Tye verander. Vandag kan jy in jou huis sit en elke liewe produk in die winkel bekyk. Net daar en dan kan jy daarop klik en binne ’n uur of wat word dit by jou deur afgelaai.

Baie van die veranderings was baie goed. Hoe sou jy gevoel het as die kleinhuisie nog buite was en die groot nood jou beetgepak het? Dis darem net te gemaklik om op te staan, drie treë te gee en dan is jy by die en suite.

Ons moet dankbaar wees vir al die veranderings wat die lewe vir ons makliker gemaak het.

Net so moet ons vreeslik dankbaar wees dat God nie meer “vasgekeer” vir die gewone mens in die Allerheiligste sit nie. Dit was mos die plek waar die priester een keer per jaar kon ingaan om bloed as offer te sprinkel vir die mens se verlossing.

Jesus het ’n groot verandering gebring. Jesus het die appelkar kom omgooi. Jesus het die gordyn geskeur, die muur tussen mens en God afgebreek. Die mens kan nou by God uitkom. Vir hierdie verandering moet ons so dankbaar wees.

2In die heilige plek waar God is, is Jesus besig om as Hoëpriester vir ons te doen wat vir ons nodig is om ook by God te wees.

Die veranderings het egter nie gestop toe Jesus die aarde verlaat het nie. Jesus het ’n nuwe werk in die hemel aanvaar en dit is om mediator te wees vir ons. Jesus vat, soos my seun sou sê, die shots namens ons.

Die rol van die hoëpriester is mos om ’n koei of ’n skaap of ’n duif te offer, sodat ons nie geoffer of doodgemaak hoef te word vir die sondes wat ons aangevang het nie. Toe Jesus Sy liggaam, Sy wese aan die kruis geoffer het, was dit oorgenoeg en daar hoef nie weer ’n offer vir ons sonde gebring te word nie.

Dankie tog dat dinge nie dieselfde gebly het nie. Dankie tog dat dinge verander het en oor en oor die beste na ons kant toe. Jesus sit net daar langs God en verdedig ons. Hy bring ’n prentjie na God van ons wat skoongewas is van sonde. Nee, nie omdat ons sondeloos is nie. Dit is net moontlik gemaak deur Hom wat die posisie van Hoëpriester aangeneem het.

Ons moet so dankbaar wees vir Jesus. Die vraag is nou of ons die dankbaarheid uitleef daar buite? Wanneer jy weer onregverdig behandel word, wanneer jy jou onderlip moet vasbyt, omdat daar dinge aan jou toegedig is wat so vêr van die waarheid is, moet jy jou dankbaarheid wys. Hoe? Jy sal weet hoe!

Teks
Hebreërs 8:1-6

Om oor na te dink
Hou jy van verandering?
Is jy bly oor die verandering wat Jesus gebring het?
Hoe verander dit jou optrede?

Gebed
Jesus, dankie vir die verandering wat U gebring het. Dankie dat U elke dag by ons Vader sit en ons saak namens ons daar stel. Dankie dat ons kan weet dat ons plek in die hemel voorberei is. Aan U kom al die eer toe! Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek