God se Woord in vandag se woorde

Jesus het hom ore kom aansit


Sonde se straf is die dood. As jy sonde gedoen het, was die dood en die hel jou voorland. Die dood was die duiwel se speelterrein en ongelukkig het baie mense hierdie doodse pad geloop.  

Gelukkig het God ’n plan gehad om hierdie katastrofe eens en vir altyd stop te sit. Jesus is na die aarde gestuur om die Redder te wees en ’n nuwe pad uit te kap vir die wat in Hom glo.  

Dit was vir seker nie ’n maklike pad wat Jesus moes loop nie. Sy marteling aan die kruis was een te veel en selfs Jesus skree in verlatenheid uit: “My God, My God, waarom het U My verlaat?” 

Daar was egter geen ander manier nie. Jesus moes doodgaan. Jesus moes vermoor word. Jesus moes die donker dieptes van die dood ingaan, sodat Hy weer daaruit kon opstaan en lewe. 

Om te bewys dat jy die sterkste is, moet jy eers die tweede sterkste aanvat. Jy moet in die bokskryt klim en die teenstander ore aansit, sodat dit jou arm is wat na die geveg in die lug geswaai word. 

Om die dood te oorwin, moes Jesus eers daarheen gaan. Jy sien, die duiwel het die sleutels van die doderyk gehad en hy het die deure oopgesluit vir wie hy ook al daarin wou druk.  

Toe Jesus egter opgestaan het uit die dood, het hy die sleutels van die doderyk by hom afgevat en Jesus is nou in beheer. Jesus het die angel van die dood kom trek en daarom kan daar met die wat in Hom glo, eenvoudig niks meer gebeur nie. 

Die duiwel se bubble is gebars. Daar waar hy geheers het, is hy onttroon. 8… Die Seun van God het juis aarde toe gekom om die duiwel te kom vasvat. (1983-vertaling) 

Jesus het die straf vir sonde vir ons kom dra. Hy het die pak kom vat. Hy is dood in ons plek, sodat ons nie hoef doodgemaak te word vir die sonde wat ons aanvang nie. 

Jesus het die bande van die dood, wat mense in die doderyk vasdruk en keer dat jy daaruit kan opstaan, in stukkies kom sny. Juis daarom kan die doderyk ons nie vashou nie. 

Dis juis die rede hoekom ons nie meer die dood hoef te vrees nie. Ja, daar is nog so ’n stukkie vrees om die aarde te verlaat, maar dis net omdat ons bang is vir die vreemde en die oorstap.  

Tog hoef ons nie bang te wees dat die dood ons gaan onderkry nie. Daarvoor het Jesus klaar gesorg en die duiwel met sy onderduimse metodes reeds vasgevat. 

Dankie tog daarvoor.  

Laat ons dan elke dag so lewe. Laat ons die wêreld gaan wys dat ons nie bang is dat die dood ons gaan vashou nie. Laat ons lewe getuig van ’n ewige lewe wat reeds nou al begin het.  

Teks
1 Johannes 3:4-10 

Om oor na te dink
Wat beteken Jesus se opstanding uit die dood vir jou?
Hoe leef jy dan anders?
Sien ander dit in jou lewe raak? 

Gebed
Jesus, dankie dat U die pad vir ons oopgesterf het. Dankie dat ek nie met die dood gestraf hoef te word vir my verkeerde dade nie. Laat ek vry in die wêreld gaan lewe. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek