God se Woord in vandag se woorde

Jesus kom een of ander tyd


“Sê vir my: Weet jy wanneer Jesus weer kom? Nee, jong ek weet nie, maar ’n ander ou sê nou die dag dat dit gaan nou so rof in die wêreld dat die Here seker al voor die wêreld se voordeur staan.” 

“My broer, my broer! Hoekom glo jy nog in die twak? Tweeduisend jaar gelede het die ouens al in die Bybel geskryf dat Jesus se koms om die draai is. Wel, ek sien na al die jare nog niks van die blik kantien nie …” 

Van die gesprekke het ek al met my eie ore gehoor. Sommige van hierdie is mense wat regtig wil weet. Sommige is mense wat bang is hulle is nie gereed nie. Ander weer blatant aan die spot en gee sommer ’n snork na hul gespot. 

Kom ons sê dit reguit vir mekaar: Niemand weet wanneer Jesus weer gaan opdaag nie. Jesus sê in Matteus 24:36 dat ons nie die presiese uur, minuut of sekonde weet van die wederkoms nie.  

Verbasend dat Hy sê dat Hy self nie eers weet wanneer Hy gaan terugkeer nie. Dis net God wat weet. Bou nou ’n brug daaroor en raak rustig. God sal vir Jesus terugstuur na die aarde as Hy weet die tyd is reg.  

As die tyd reg was, sou God al lankal vir Jesus gestuur het. God was al lankal gereed om vir Jesus te stuur, maar ek vermoed dis omdat die mense nog nie gereed is nie, dat die wederkoms keer op keer uitgestel word.  

Wat was die rede hoekom God vir Jesus na die aarde toe gestuur het? Jesus moes die mense kom vertel wie God is. Jesus moes God se groot liefde vir ons sondige mense ten toon kom stel, maar meer nog: Hy moes God se liefde vir elke mens op die aarde kom wys deur te sterf aan ’n kruis.  

Baie het dit gesnap. Baie is aangeraak deur die liefdesdaad van God. Baie het gehoor, gesien, ervaar, handopgesteek en tot inkeer gekom. Baie het egter nog nie tot hierdie insigte gekom nie.  

God is ’n God van kanse. Hy wil só graag hê dat die hele mensdom hierdie genadedaad van Jesus aan die kruis moet snap en verstaan en deel maak van hul lewe. Hy wil hê dat hulle ook hand moet opsteek en vir Jesus aanvaar as hul Saligmaker.  

Daarom dat Jesus se koms eers op die ys gehou word. 9Daarom is Hy glad nie laat vir sy afspraak met die wêreld nie, al dink party spotters so. Die Here stel nie sy belofte uit nie. Hy sal Sy woord hou. Op die oomblik is God net geduldig met julle almal. Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. 

Dis hoe eenvoudig dit is. Jesus sou al lankal gekom het as daar nie so baie is wat die trein gaan verpas as Jesus vandag hier sou opdaag nie.  

Laat ons egter ons kant ook bring en waar ons kom vir ander wys wat Jesus se verlossingsdaad vir ons gedoen het. Laat ons manier van lewe, Jesus se koms nader bring. Laat ons lewe vir ander na Jesus wys sodat hulle ook na Hom sal smag en Hom aanneem as hul Verlosser.  

Teks
2 Petrus 3:8-13 

Om oor na te dink
Verwag jy dat Jesus enige oomblik kan terugkeer aarde toe?
Wanneer wil jy hê moet Hy weer kom?
Hoe kan jy ander wys na Jesus? 

Gebed
Jesus, dankie dat U hier op aarde was. Dankie dat U weer kom. Help my om ander te wys na U. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek