God se Woord in vandag se woorde

Jesus red en dis net genade alleen


John Newton was ’n kaptein van ’n slaweskip. Die slawe het geen regte gehad nie en moes net doen soos wat hul nuwe eienaars sê hulle moes doen. John het die mense letterlik aangery na ’n lewe as gevangene. 

Op ‘n dag tref ’n woeste storm hulle op die see. Selfs geharde seemanne het besef dat hulle dit nie op hulle eie gaan maak nie. John het begin bid en gesmeek vir genade. 

Hierdie ervaring het sy lewe verander. Dit was juis hy wat teen slawerny opgestaan het. Hy was ook die skrywer van die baie bekende lied: Amazing grace, wat miljoene mense al aangeraak het. 

Jy sien, John Newton het genade aan sy lyf ervaar. Hier was hy besig om mense uit hul vryheid weg te neem na gevangenskap toe. Hy was die oorsaak dat baie mense se lewens verwoes is, maar die dag toe hy in die moeilikheid beland, ontvang hy ’n hoop onverdiende genade.  

Dit is wat Jesus doen. Hy red mense uit hul storms. Hy daag op wanneer hulle in die moeilikheid is. Maak nie saak hoe hulle lewe voor die tyd gelyk het nie. Maak nie saak wat hulle al alles aangevang het nie.  

Jesus vra nie eers hoe jou pad tot nou toe gelyk het of wat jy gedoen het nie. Met ander woorde, Hy vra nie of jy kwalifiseer vir Sy genade nie. Hy daag net op en doen Sy ding en red mense. 

14Ons het alles gesien en kan dus vir seker sê: Die Vader het sy Seun gestuur met die doel om die mense op aarde te kom red. 

Dankie tog vir genade, want as ek moes kwalifiseer, sou ek dit nooit gemaak het nie. Ek wonder soms wat van ons sou geword het as ons voor Jesus se tyd op aarde geleef het?  

As ek rondom my kyk, leef baie mense steeds so, sonder dat hulle weet dat Jesus ook vir hulle sondes gesterf het. Hulle weet nie eers dat daar ’n opsie is dat hulle ook gered kan word nie. 

Ons het ’n groot verantwoordelikheid om vir mense te vertel van Jesus en hoe wonderlik Sy reddingsdaad is. Daar is die engelse spreekwoord: “The only Jesus Christ the world will ever see, is the Jesus Christ in you and me.” 

Ek en jy is dalk die enigste mense in iemand se lewe wat vir hulle iets van Jesus kan wys. As ons dit nie doen, wie anders gaan hulle dan vertel dat Jesus na die aarde gekom het om hulle te red van die ewige dood? 

Ons word nou elkeen opgeroep om hierdie doel van ons op aarde weer te herbesoek. Ons moet weet dat ons elkeen die roeping het om ander van Jesus te vertel en indien nodig, moet ons woorde gebruik. 

Laat die impak van die redding van Jesus en dat Hy namens jou die straf vir sonde gedra het, deur jou manier van lewe sigbaar word. Laat jou manier van lewe ander vertel van Jesus en laat daar ook ’n vuur in hulle begin brand om ook Jesus as hul Redder te aanvaar. Laat ons lewe ’n lied sing van Amazing Grace. 

Genade wat groot genoeg is dat ’n skurk soos ek gered kan word.  

Teks
1 Johannes 4:7-21 

Om oor na te dink
Wie in my lewe ken dalk nog nie vir Jesus nie?
Wys my manier van lewe vir ander iets van Jesus?
Hoe kan ek vandag iemand help om nader aan Hom te beweeg? 

Gebed
Jesus, hoe sê ’n mens dankie vir U onbaatsugtige daad aan die kruis? Om liefde te lewe! Laat ek dan liefde leef waar ek ook al gaan. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek