Jesus sorg vir geen meer vrees
Ken jy werklik vir God? Hoe is jou beeld van God? Soms vang ek my dat ek bang is vir God. Soms wonder ek of ek nie te lou is en dat God my uit Sy mond gaan spoeg nie? Soms sien ek God soos my onderwysers op skool.
Jy sien, ek was gedurig aan die verkeerde kant van hulle. As ek nie iemand se tas bo by die eerste verdieping se venster uitgegooi het nie, was ek doenig met ’n stinkbommetjie of die meisie voor my se vlegsel. Huiswerk was nooit op my to-do-lysie nie. Daarom was ek en die onderwysers nie in dieselfde hoek in die bokskryt nie en het ek wye draaie om hulle gestap.
My dade (veel van hulle verkeerd) het my verhouding met my onnies bepaal. Ek vermoed vrees was die oorsaak van die wankelende verhoudings. Net so vermoed ek dat vrees ons verhouding met God opfoeter of weliswaar van ons kant af. God is nie ons opposisie nie.
Hy is aan ons kant. As ’n mens Jesus se koms na die aarde verstaan en wat Hy hier kom doen het, sien ’n mens ons Vader se hart raak. God het by wyse van spreke soveel trane gestort vir die mense wat soos vlieë gedood is en nie by Hom uitgekom het nie.
Dis die liefde wat God vir die mense het, wat Hy vir ons het, wat Hom dring, ek wil amper sê dwing, om ’n plan te maak met die verlore mens.
Dis die liefde vir die mens wat Hom ’n plan laat maak waar Jesus moes sterf aan ’n kruis, sodat Sy bloed kon loop ter betaling van ons sondes. Ons hoef nie meer pa te staan vir ons sondes nie, want Jesus het klaar die straf daarvoor betaal.
Dis God se hart. Dis Sy liefdesplan. In hierdie plan is daar nie plek vir pak slae nie, inteendeel, Jesus het klaar die pak gevat. Ons hoef nie meer in vrees en bewing te lewe vir die dinge wat ons aangevang het nie.
Ons moet vir God leer ken as die liefdevolle Vader. Want soos ons kennis van Hom groei, verander ons, groei ons geloof en begin ons anders in die intieme verhouding met God leef en kry vrees sy ry.
Kennis is mag. Kennis haal die onsekerhede uit die pad en so leer ons vir God ken. Ons leer Sy hart ken. Ons leer vir Jesus ken. Ons leer Hom as ons broer ken wat vir ons as advokaat optree daar by die regter se bank. Hy vat altyd ons kant. Daarom hoef ons juis niks te vrees nie.
Ek begrawe ’n vriend van my se broer. Dit was ’n moeilike begrafnis, want hy het ’n paar keuses gemaak wat nie so lekker was nie en het op die strate van ons dorp geëindig. Afgeskryf deur baie mense.
Wat praat ’n mens op so ’n begrafnis? Wel, jy sorteer eers die olifant in die kamer uit. Ons almal maak foute. Ons almal maak swak keuses. Sommige se resultate net meer sigbaar as ander, maar êrens lê ons almal op die strate van die lewe as gevolg van ons keuses.
Tweedens bring ’n mens net weer die eenvoudige boodskap van Jesus se groot verlossing, want almal wat daar by die begrafnis is, het dit nodig om te weet dat God nie meer ons sondes raaksien nie. Ons hoef nie te vrees nie.
12Liewe kinders, ek herinner julle weer daaraan: vir God bestaan julle sondes eenvoudig nie meer nie. Daarvoor het Jesus gesorg.
Teks
1 Johannes 2:10-14
Om oor na te dink
Waarvoor vrees jy?
Glo jy dat Jesus vir jou sondes gesterf het?
Wat moet jy doen met die vrees vir jou dade?
Gebed
Vader, dankie dat Jesus kon sterf vir my sonde. Help my om ontslae te raak van die vrees. Amen.